Ek was nog altyd bietjie sku om iets oor ekseem te skryf, maar deur my seep-bladsye het ek alreeds soveel navrae gehad oor ekseem en ek het werklike meegevoel met mense en hul kinders wat daaronder ly, fisies sowel as geestelik.
Ek wil uit die staanspoor bevestig dat dit ‘n mediese probleem is en ek is beslis nie ‘n veldokter nie. Ek sal slegs feite weergee sover my kennis strek en dan my eie logiese opinie gee oor rate wat probeer mag word. Ek weet nie en/of voer nie aan dat ek weet hoe om ekseem te genees nie. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir middels wat nie werk nie, wat gaan volg is slegs opinies en voorstelle wat ek self sou probeer, sou ek ook aan ekseem gely het.
Met dit uit die weg, wat is EKSEEM?
Ekseem is ‘n tipe dermatitis, of inflammasie van die epidermis, of eksterne lae van die vel. Sowat een uit nege persone het alreeds gely aan ekseem, of doen so steeds. Ekseem is ‘n breedvoerige term wat ‘n hele reeks velkondisies beskryf. Dit sluit in droogheid en aanhoudende veluitslag gekarakteriseer deur een of meer van die volgende simptome: rooi vel, swelling, jeukerigheid en droogheid, verkorsing, afskilfering, blaserigheid, krakerigheid, syfering of bloeding. Daar mag dalk verkleurde areas op die vel verskyn en is partykeer die gevolg van geneesde beserings aan die vel. Die oopkrap van ‘n genesende beskadiging kan letsels veroorsaak en mag ook die uitslag vergroot of vererger.
Daar is ‘n wye verskeidenheid tipes ekseem en dit word hoofsaaklik gebasseer op geskiedenis en fisiese ondersoek. Ek gaan nie die tipes noem hier nie, maar wel dat sekeres ‘n droë vel-probleem is, sekeres word veroorsaak deur ‘n bakteriese infeksie, sekeres deur ‘n “te skoon” omgewing (Ja, jy’t reg gehoor. Blootstelling aan normale bakterië help om die immuun-sisteem te verstewig en is veral belangrik tydens jong ontwikkeling) en sekere ekseme kan ook veroorsaak word deur slegte dieët of ‘n allergie teen stof-mites se uitwerpsels (mooi word vir stront!). Daar word wel sterk aanbeveel dat mense wat aan ekseem ly, nie die “smallpox” inenting moet kry nie, aangesien dit tot die ontwikkeling van “eczema vaccinatum” kan lei, wat ‘n baie erge en moontlike fatale gevolg mag hê.
Medies is daar geen genesing van ekseem nie, behandeling word alleen gemik om die simptome te verlig deur inflammasie en jeukerigheid te verminder.
Nou wil ek ‘n redelik waaghalsige stelling maak: ek het al gelees van mense wat hulself van ekseem genees het deur die regte eetplan, velsorg, higiëne en geduld toe te pas, so ek dink dis ‘n pot nonsens. Ons stelsels is geskep om hierdie tipe van dinge die hoof te bied met die regte ondersteuning en aansporing, so kom ons mik na genesing terwyl ons die simptome verlig. Hoekom nie – dit behoort mos die doel van enige behandeling te wees, of hoe?
Behandeling:
Kortikosteroïdes word algemeen voorgeskryf, of dit nou in stroop-vorm vir kinders, inspuitings, pille of salwe is. Die toediening van salwe word gewoonlik aanbeveel in ligte gevalle en mag dalk nie sulke erge newe-effekte hê as die strope, pille of inspuitings nie, wat in meer ernstige gevalle voorgeskryf word. Dis juis as gevolg van die newe-effekte dat enige middel wat kortikosteroïdes bevat, net gebruik moet word oor ‘n kort tydperk om ‘n skielike uitslag te behandel en beslis nie oor ‘n langer tydperk nie.
Newe-effekte sluit in:
- Verdunning van die vel oor die behandelde area.
- Sterk steroïdes op groter areas word geabsorbeer enkan”hypothalamic-pituitery-adrenal axis suppression” veroorsaak. Gaan lees maar self wat dit beteken.
- Onderdrukking van ons immuun-stelsel indien dit sonder antibiotika of anti-swam middles gebruik word, wat kan lei tot sekere vel infeksies (swamagtig of bakteries).
- As dit in aanraking met die oë kom, kan dit glaucoma of katerakte veroorsaak.
Ander middels wat voorgeskryf kan word is immuniteit-onderdrukkers (ek dink ons kan almal dink watter probleme dit kan veroorsaak) en middels wat jeukerigheid verlig. Die sluit antihistamiene en hidrokortisoon in, wat elk hul eie newe-effekte het. Baie van die voorgeskrewe middels vir ekseem is eintlik bedoel vir ander mediese kondisies, maar daar is gevind dat hulle ook effektief teen die simptome van ekseem is.
Hier kom nou weer nog ‘n waaghalsige stelling: Dit klink vir my te veel na dobbel. Ek wil beslis nie dat my kind blootgestel gaan word aan so-iets nie.
Al ander alternatief is natuurlike middels, en dit is alleen met die gebruik van natuurlike middels dat gevalle van genesing wel al voorgekom het. Ek weet nie van julle nie, maar dit gee my meer hoop as bloot net die simptome behandel.
Kom ons kyk wel eerste na die natuurlike behandeling van die simptome. Ekseem word natuurlik vererger deur droogheid van die vel. Vel-bevogtiging is dus een van die belangrikste self-behandelings. Deur die geaffekteerde areas bevogtig te hou kan genesing van die vel aanhelp en simptome verlig. Eerste ding wat almal aanbeveel is: bly weg van seep en harde opwasmiddels. Ek sou voorstel: gebruik net die regte seep. Winkel-seep is uit. Koop seep wat jy weet van natuurlike olies gemaak is, of maak jou eie. Dis baie goedkoper en beslis nie so moeilik of morsig as wat jy dink nie. Onthou, jy wil olie terugsit op jou vel, so soek vir ‘n seep wat olyfolie, amandelolie, druiwesaadolie, avokado-olie, makadamia-olie, shea butter en sulks bevat, asook botaniese olies soos Tea Tree, Rooibos tee, vitamiene E, Ylang ylang ens.
Vervang ook nie net jou seep nie, maar jou sjampoe ook.
Verminder bad-tyd en vermeerder stort-tyd. As jy regtig wil bad (in die winter is ‘n bad mos veral lekker!), maak vir jouself ‘n natuurlike bad-olie uit mengsels van die bogenoemde olies en botaniese olies of reukolies. Klim in die bad en week jouself eers vir vyf minute voor jy die bad-olie ingooi. Dit help dan om die natuurlike bevogtiging op jou vel in te “sluit”. As jy gestort het, vra iemand om jou te help of doen dit self, maar masseer daardie olie goed in jou vel in so kort moontlik na die stort, selfs nog voor jy afdroog. Onthou, rome soos aqueous is nie skadelik nie en word lekker vinnig geabsorbeer maar het meer toedienings nodig juis as gevolg daarvan. Toets verkillende olies op jou vel en vind so uit hoe vinnig jou vel dit absorbeer sonder dat jy soos ‘n vetgesmeerde blits lyk! Tensy dit dalk jou en manlief of vroulief se “ding” is (ek wil nie weet nie!). Gee jou hare ‘n klapper “hot-oil-treatment” maar konsentreer meer op jou kopvel. Kyk of jy op die internet vir jou 100% organiese shea butter kan bestel of dalk hou jou apteek of gesondheidswinkel dit aan. Dis duur maar so die moeite werd, so jy kan dit òf spaarsamig op jou vel gebruik, òf met jou bad (of vryf!) olies meng òf gebruik as ‘n weelderige toevoeging by jou seep.
Harde of sagte water het geen merkwaardige uitwerking op ekseem nie, maar ek sou aanbeveel dat jy die pH van jou water toets en regstellings maak indien nodig. Water met ‘n te hoë suurgehalte kan versag word met koeksoda of asyn. Alkaliese water is goed vir jou vel.
Vermy asseblief enige winkel-middels wat grimering afhaal. Dit mag dalk op die omhulsel noem dat dit hypoallergenic of medies getoets is, maar sulke stellings word nie gereguleer nie. Gewone boerseep (uit beesvet gemaak) haal grimering fantasties af en doen jou vel geen skade nie. Jy kan tot ‘n koek daarvan gebruik om hardnekkige vlekke in jou wasgoed mee te vryf, of oprasper en as waspoeier gebruik, of die gerasperde seep meng met water en as opwasmiddel gebruik. Jy kan dit natuurlik geur met enige ding wat jou hart begeer – dit ruik nie soos kookvet nie.
‘n Effense lewensstyl-verandering mag ook help. Vermy matte in kamers – dis ‘n broeiplek vir stof-mites en sulks. Kyk ook na goeie ventilasie sonder om goeie humiditeit prys te gee.
Wou jy nie nog altyd ‘n goeie bruin sonbrand hê om mee te spog nie? Hier is tot ‘n “tanning salon” op ons klein dorpie-by-die-see, so ek is seker dat jy iewers sal regkom. Ultraviolet-bestraling is ‘n goeie behandeling in lae dosisse, onthou net om aan te hou om die olies tussenin aan te smeer!
Kies versigtig wat jy eet en wat jy aan jou kinders voorsit. Kosse wat ekseem kan vererger verskil wel van persoon tot persoon, maar vermy meer suur-kosse soos beesvleis, hoender en varkvleis en eet meer vis. Dit bevat “fatty acids” wat baie goed vir jou is. Jy wil goed eet wat veral hoog is in omega-3 poli-onversadigde vette, en laag in omega-6.
Vermy suur vrugte soos lemoene, pynappels en sulks, asook sekere neute en natuurlik brood gemaak uit suurdeeg. Mens kan heerlike brode maak wat ander rysmiddels as suurdeeg gebruik (soos koeksoda of karringmelk of bier). Jy wil eintlik jou hele dieët verander na proporsies van 75% alkali-kosse teenoor 25% suur-kosse, dan is jy op die regte pad.
Kry vir jou vitamiene D3 by die apteek. Terwyl jy daar is, kry ook sommer visolie kapsules, of nog beter; garnaal-olie kapsules. Hulle help om die ontwikkeling van beskermende natuurlike olies op jou vel te bevorder.
Probeer om op te hou krap! Dis bewys dat krap naderhand ‘n gewoonte word, en dit vererger die beskadiging van jou vel.
Ek en Engel 2 het al self klein kolletjies ekseem gekry. Ek het vermoed dat dit meer ‘n swam-tipe ekseem was. Ek sou glad nie die behandeling aanbeveel nie, maar dit het wel 100% vir ons gehelp: ek het die kolletjies gekrap met ‘n lemmetjie reghoekig teen die vel gehou, sonder om die vel te breek, tot dit effe rou was. Toe het ek dit ingevryf met olyfolie en Tea Tree olie gemeng, tweekeer per dag. Na twee weke was dit onsigbaar en het nie teruggekom nie. Drasties, maar effektief. Ek dink wat ek probeer sê is: kyk deur als en probeer verskillende dinge totdat jy kry wat vir jou help en werk.
Voorspoed!