Feeds:
Bydraes
Comments

Life begins at…

Julle het seker ook al die holrug gesegde gehoor met ‘n verjaarsdag: “Toemaar, hulle sê die lewe begin eers by… (voeg jou ouderdom by).” Ek was dit verseker op twintig, dertig, en nou so wragtig op hierdie laaste mylpaal. Ek wag nog vir dit om te gebeur!

Ek het Saterdag-oggend wakker geword met dieselfde pyne en skete as die dag tevore. Later in die lewe is daar nie meer daardie vlinderige opgewondenheid as kind met nog ‘n jaar ouer word nie – so tussendeur vinnige beplanning wat om die dag te doen onthou jy ewe skielik; o ja, ek verjaar vandag! En dis nogal die groot vier nul! Hel, nou raak ek oud! Dan is dit maar weer terug na die normale realiteit om soveel dinge as moontlik in ‘n kort naweek in te prop want gedurende die week is daar nie tyd daarvoor nie.

So, terwyl ek gekrap het in die kas na klere storm die Engele die kamer binne – ek het tevergeefs probeer om myself betyds te bedek agter iets wat ek inderhaas uit die kas gegryp het – ‘n paar kouse. Andrea het gelukkig haar pa se verleentheid gesien en het gou so paar kledingstukke gekies terwyl ek aangetrek het wat sy aangee. Toe word daar gesing, rondgedans en skielik was daar weer so verlore gees van die ou opgewondenheid in my: “Dad, come open your presents!” Gits, ek het geskenke? Ek was by die trappe afgesleep en gemaak sit op die rusbank. Die Irishman het ‘n koppie stomende koffie voor my neergesit en ek het dankbaar probeer om die slaap af te sluk. Veels te langdradig vir die Engele. “Dad, can I open mine for you?” Ek het opgegee en die twee het met bewende hande begin pakkies oopskeur. Wat sou ek sonder die twee doen?

Later die middag het ek vuur aangesteek en die kinders het in afwagting gesit en wag vir die niggies en nefies om op te daag. Vroegoggend het ons die laaste gaste eers uit die huis gekry- sekeres sou met kloppende skedels wakkerword… Altesaam was dit ‘n goeie dag, en in die kerk Sondag oggend (ja, ek gaan so nou-en-dan!) het ek my oë gesluit en dankie gesê vir 40 jaar op aarde, maar veral vir opgewonde Blonde Engele en ‘n glimlaggende Irishman met ‘n koppie koffie in haar hande wat sommer so aan die begin van die “groot dag” dit die moeite werd gemaak het!

Vukertjie woeker nie meer…

Genugtig, ek was ‘n maand laas hier! Tyd om weer so paar gedagtes op skrif neer te lê…

Ek het nie sonder rede weggebly hier nie – vir ‘n geruime tyd kon ek net nie so goed tik nie! O, wat het nou weer gebeur, hoor ek party van julle sê wat my ken. Ek het mos so jaar gelede een van hierdie Vuka skoeters gekoop. Goed, ek lyk seker soos ‘n houtkapper op ‘n driewiel, maar ek het geweldig baie branstof bespaar – die ou dingetjie het op brandstof-walms geloop, tot ongeveer 50km per liter! So, mense kon maar lag, maar ek het lekker gespaar.

Alles goed en wel – ry werk toe en terug, vleg lekker deur ogend- en aandverkeer sonder enige oponthoude, gooi net elke week R 20 se brandstof in die tenkie – tot ‘n dametjie met ‘n Audi A4 besluit sy “laaik” nie die skoeter-affêretjie nie… Opsluit draai sy toe voor my in sonder om glo vir my te sien, skoetertjie se voorwiel buig terug verby die enjin en ‘n baie beduiwelde “dutchman” vlieg soos ‘n koeël uit ‘n geweer deur die handvatsels, oor haar enjinkap en duiwel aan die anderkant neer dat die aarde sommer so sidder!

Aan't flarde geval...

Aan't flarde geval...

In ‘n gewone geval sou ek opsluit opgespring het, mense begin rondgooi het en name gevat het. Probleem was, ek kon nie op my bene staan nie. Het ek genoem ek is “deur” die handvatsels? Die hele instrumentepaneeltjie was stukkend soos my knieë daardeur is en die tru-spieëls het sommer soos ‘n teneergedrukte insek se voelers so vorentoe gehang. My knieë was nerf-af, my maermêrries ook, en ek het diep kneusings op my bo-bene gehad. Daar was ‘n been in my regterhand- en gewrig gekraak, asook in my linkerskouer. Die Vukertjie – in sy glory.

Behoorlik holrug...

Behoorlik holrug...

Die voorlig, instrumentepaneel, spieëls, raamwerk en plastiek kappies is almal stukkend. Die voorwiel is nog heel maar die vurke is daarmee heen. Die arme ding kan nie eers op sy staanders staan nie – met die dat die voorwiel so erg teruggedruk is, staan die dingetjie sommer so holrug soos ‘n bokspringende wildeperd. So, daar is my ou fietsie daarmee heen. Gelukkig leef ek nog en kan ek weer normaal loop en skryf.

Klipgooi

Ek het twee weke gelede stadig wakker geword met ‘n ongemaklike pyn regs van my ruggraat. Vinnige kykie na die wekker – ugh, 4:15 in die oggend… Opgestaan en by die skuifdeur die halfskemer buurt bekyk en geluister na die voëls se vrolikheid. Ek het glad nie vrolik gevoel nie – ek het gevind dat die ongemaklikheid binnekort in ‘n baie ferm pyn ontaard het. Dit was nie maag nie, so ek het begin bekommerd raak. Ek het besluit om nog so bietjie uit te hou – dit was allermins vroeg en miskien sou dit weggaan. Minute later was ek dubbel gevou en het effens kortasem die Irishman saggies wakkergemaak. “Hier’s fout. Ek dink jy moet my maar invat.” Die laaste keer toe ek dit vir haar gesê het, so twee jaar gelede, moes ek vir ‘n nood blindederm-operasie gegaan het, so sy het nie tyd gemors nie om vinnig aan te trek, die Engele in te lig en my by die trappe af te help. Ek kon beswaarlik loop.

Die rit hospital toe was rof, om dit sagkens te stel. Ek het elke klippie en ongelykheid in die paaie gevoel. By die hospitaal gestop, kon ek nie uit die Mazdatjie nie. Die Irishman moes ‘n rolstoel ontbied. Ek het vir omtrent tien minute in die voorportaal gesit en hyg en snak na asem – teen daardie tyd was die pyn bitter erg – terwyl Heather dokumentasie ingevul het. Uiteindelik word ek deurgerol na ‘n ondersoek-bed. Teen daardie tyd het ek dwars oor die bed gesit, die kante witkneukel vasgeklem en begin bid om dood te gaan. Ja, dit was so erg.

My bloeddruk was 180/92. Ek het gesweet soos ‘n trek-os. Ek kon beswaarlik vrae beantwoord. Hulle het redelik vinnig tot die gevolgtrekking gekom dat dit net nierstene kon wees. Dis baie mooi… gee my net iets vir die pyn! Deur pynwalms sien ek die doktertjie se nekkie. As ek nou net my hand van hierdie bed kan loskry! Ek vloek, die Irishman prewel gebede dat die rook staan. Eerste steek van die naald – ok, nou moet ek net uithou tot dit werk. Bid, vloek, knyp. Vyftien minute later, niks. Ek kon die donnerse doktertjie hoor, maar nie sien nie. Letterlik blind van pyn. Gelukkig vir hom… Tweede inspuiting – ok wag, knyp, sweet, frans, duits en hollands – nee, ook niks. Slaan my net effens dronk in die kop. “Gebruik ‘n knuppel, dit werk op die boot met die haaie…” kry ek tussen geklemde tande uit. Tussen lamentasies oor my harde vel – die Irishman meen mos ek is dikvellig – en komplimente oor my are (wie de hel gee om, druk net ‘n naald in en sit my uit!) kry hulle ‘n drup in my arm. Ek moet lê. Not ‘n moer. Dan lê ek reg op die pyn! Wie gaan dan my boude toeknyp? Een verpleegstertjie – ek weet tot nou toe nog nie hoe sy lyk nie – kry ‘n blink idee om ‘n hele bottel vloeibare paracetamol aan die druk te koppel. Ek was naar, my kop het gedraai van die pethanol, maar binnekort was daar verligting. Uitgeput, dronk in die kop en met ‘n wollerige Pethanol-tong kon ek die kante van die bed laat gaan.

Na die een aand in die hospitaal was ek gestabiliseerd en kon ek die volgende dag terugkeer huistoe met ‘n handvol medikasie. Ek het maar so die week deurgesukkel tot die volgende Maandag, toe hulle moes “ingaan” deur “you know what” om die blêrrie klippies te gaan uithaal. Met die eerste trippie na die toilet het ek amper die hospitaal-grys verfies van die muur afgeskeur met my naels. OK, te veel informasie. Ek is seker julle wou dit almal weet… Na nog ‘n dag is ek ontslaan maar was die volgende dag terug met omtrent dieselfde pyn as die eerste keer! My magtig, was dit nie nou al genoeg nie? Ongevalle, pethadine, hyg, vloek, knyp, rus en huistoe. Die maergat doktertjie meen dis inflammasie en ‘n blokkasie tussen nier en blaas. Jammer, weereens te veel informasie… deal with it… Dit gaan nou beter, gelukkig.

Mans en dames, as ek mag, kyk asseblief waarna julle eet en drink. Ek het nog nooit sulke blinde pyn ervaar nie en wil nooit weer nie, en ek wens dit ook nie op julle nie.

Daar was ‘n geween en gekners van tande. Soebat, bid en weghardloop het nie gehelp nie. So stroopsoet-lyk dat mens eintlik tandpyn gekry het, het ook geen vrugte afgewerp nie. Brakkie moes bad! 

Hoe kan julle.... hoe kan julle!

Hoe kan julle.... hoe kan julle!

Ons het oor die naweek begin om die tuingrond voor te berei vir planttyd. Dit was een van ons min gesellige dae; sonnig met ‘n ligte briesie en so knippie bergwind, maar nie soveel dat neuse en oë opdroog nie. Toe die familie wakkergeskrik het, het ek al so paar beddings klaar kraalmis ingewerk. Brakkies het natuurlik kom kyk waaroor al die skielike opgewondenheid gegaan het, maar kon nie deur die groentetuin se heining nie en het elke dan en wan sy misnoë daarmee te kenne gegee met ‘n vreeslik ingedoende en bedroefde tjankie. Nadat vrou en kinders die slaap uit hulle oë ontbyt het en self begin implemente nadersleep het, was daar nou so bietjie meer aktiwiteit en kon meneertjie kordaat hardloop van een woeste skoffeling na die ander, oortjies al flappende en tongetjie wat uithang, om te kyk waar hy sy bydrae kon lewer.

Heather en die kinders het naderhand ook begin kraalmis uitdeel aan honger-skraal grond, en dis nou waar die groot pret begin het, so tussen enkel-byt en katte verpes deur. Die kraalmis ruik mos nie na mis nie, maar soos ryk verwerkte grond wat baie skilfer en stof produseer. Dis toe nou so met die gebytery na handevol mis wat gestrooi word dat meneertjie sig verloor het van die feit dat hy agterna sal moet skoonkom na al diè uitbundigheid.

Nee, nee, dis mos nie hoe al daardie pret moes uitwerk nie!

Nee, nee, dis mos nie hoe al daardie pret moes uitwerk nie!

Hy het maar ‘n trietsige prentjie uitgemaak, al neulend oor warm water om sy skraal enkeltjies en haartjies wat teen sy lyfie vasklou, maar daar was nie genade nie! Met baba-kreuntjies van dankbaarheid – vreeslik jammer vir homself – was hy toe in ‘n warm handdoek toegedraai en slaapkamer toe gedra om te gaan droogblaas. Nie lank daarna nie was hy weer sy ou pofferige en kordaat self en hy kon nie wag om al die leed wat hy aangedoen was op die niksvermoedende katte te loop uithaal nie!

Planttyd in die Kaap

Oormekaar-rankende boontjies. Skarlaken beet-stamme teen klam aarde. Sappige koolblare waarteen oggenddou juweel-skitter. Welige mielieblare wat wieg en fluister dat somer uiteindelik aangebreek het. Dis planttyd, mense! Gaan soek jou graaf, vurk en hark, sleep die sak kraalmis nader en kry die honde weg van die beenmeel, ons moet tuinmaak!

Eie organiese groente kweek en gaarmaak het ‘n eienaardige bekoring. Dis harde werk en neem tyd. Dis geweldig moreel belonend en dis gesond. Dit lyk mooi. Ons grawe nou al so rukkie met effens-dom groen vingers in die aarde, maar ons het oor die afgelope twee jaar al redelik die vrugte – oftewel, groente – daarvan gepluk. Effens-dom sê ek; ek het uit die bloute besluit om weer goed in die grond te kry, ‘n 40m² area in die agtertuin omhein om die brakke uit te hou en gras verwyder. Toe het ek diep omgespit om die grond los te maak en al die klippe te verwyder, kunsmis oorgestrooi en goed natgemaak oor so week. Ek was haastig om plantjies aan die gang te kry en het oor een naweek rye gemaak en sade in die vars-verwerkte grond gedruk, weer natgegooi en duim vasgehou. Om die minste te sê was ek daardie eerste keer bitter teleurgesteld en Greenpeace sou van hulle boot afgeval het!

Noudat die organiese manier posgevat het, het ons eers bietjie gaan lees en toe besef dat omspit die grootste fout was. Dit ontbloot glo al die “goeie dinge” aan die elemente en alles word eintlik in die proses verloor, wat jou grond armer maak. Sedertdien vermy ons enige skadelike middels soos kunsmis en insekdoder en ons berei die grond goed voor met kompos, riviersand, kraalmis en beenmeel. Die beenmeel, het ons geleer, is baie goed vir “root crops” soos uie, wortels en aartappels. Die sand verbeter dreinering en die kraalmis – wel, dis net goed vir die grond. Ons het ‘n kompos-hoop begin; diè kan ons ook inwerk, maar dis ook goed om te gebruik as ‘n bo-laag om die grond se temperatuur konstant te hou en om sonlig van die bossies te weerhou. Sien, ons leer!

Die Irishman het ook ‘n wurm-toring begin en ons gooi als nat met “worm-wee”. My grond lê nou reg na die naweek en oor die volgende paar dae sal ek begin plant. Die tamaties is klaar in. Ek sit met ongeveer 50 – 60 uieplantjies wat moet in. Daar is bone, ertjies, spinasie, beet en wortels wat een van die dae hulle eerste blaartjies bo moeder aarde sal uitsteek. Ons kweek nou ons eie saadlinge met ‘n “planter-box” wat ek vir die Irishman gemaak het uit ou geute gevul met pot-grond, en ‘n skadunet deksel. Dis nou om die katte te verhoed om hulle eie bemesting by die saadlinge te voeg!

Kringe in 'n .... mieliebos!

Kringe in 'n .... mieliebos!

Laas seisoen het ons telkemaal groenmielies uit ons eie tuin gehad. Die spinasie het welig gegroei, boontjies en ertjies was volop en rocket, slaaiblaar, kersie-tamaties en “spring-onions” kon ons tafel dikwels versier. Die eet is gesond, sowel as die selfvoldaanheid agterna. Kom, kom, mense! Hoe lyk julle tuine?

Brakkies

Ek was nog altyd teensinnig om ‘n hondjie aan te skaf wat nie veel groter as ‘n Rottweiler se “doo-doo” word nie. Hulle blaf mos nie, hulle gil, en hulle laat alewig nat kolle, hare en verskeurde meubels of klere agter. Ek moet erken nadat ek toe die outjie se gesiggie gesien het vir die eerste keer, ek hom wel nie kon weerstaan nie.

"I'm too sexy for my ..... baby-blanket!"

"I'm too sexy for my ..... baby-blanket!"

Ek dink hy is een-of-ander duistere kruising tussen ‘n Maltees, ‘n worshond, ‘n foxie, ‘n kollie, ‘n “shredder” en ‘n luidspreker. Hy was nou-die-aand vreeslik vies vir my. Hy het ‘n baie onsmaaklike verrassing gekry toe hy met vlymskerp tandjies aan my voete begin kou het nadat ek myself blink gespuit het vir muskiete met die “Sleepful Peace”!

Sies pa, hoe kan jy daardie goed aan jou voete spuit?

Sies pa, hoe kan jy daardie goed aan jou voete spuit?

Ek het hom natuurlik net “Brakkies” gedoop, maar ek noem omtrent alle klein hondjies op daardie vreeslik vindingryke naam. Ons kom toe te vore met “Chewy”, omdat hy so gedurig aan alles kou. Sy tandjies pla hom seker vreeslik; hy is besig om kiestandjies te sny. Ook maar nes ‘n kind!

Plat op sy rug - pure saligheid en onskuld!

Plat op sy rug - pure saligheid en onskuld!

Na alle sonde en ergenis, wanneer hy stil raak en heel onskuldig daar lê en “woef-woef” terwyl hy katte jaag in sy drome, loop hy oor van kostelikheid en wil mens hom net opvreet. Daar het julle dit; nou’t ons ook ‘n klein stoepkakkertjie!

Doodmoeg; dis harde werk om so oulik te wees...

Doodmoeg; dis harde werk om so oulik te wees...

Stereo!

Ek kon regtig nie help om selfvoldaan te grinnik toe ek weer afgekom het op diè foto op my rekenaar nie:

Nou kan altwee saam luister... in stereo!

Nou kan altwee saam luister... in stereo!

Dit was in 2005 – die twee het baklei oor wie musiek by die rekenaar wou luister. Ek verduidelik toe heel ernstig vir hulle dat hulle sò moet maak; elkeen neem ‘n luidspreker en sit hom teen die buite-ore, en dan sit hulle koppe bymekaar, dan kan hulle altwee so in stereo luister. Hulle maak toe ewe so, en gelukkig was die kamera byderhand…

Kinderboeke

Wat lees kinders deesdae? Ek praat van kinders tussen… kom ons sê 8 en 13 jaar oud. Ek was destyds versot op daardie dun sagteband boekies van Rooi Jan en Die Swart Luiperd. Ek het ook soms van daardie ou foto-verhaal boekies gelees, in besonder Die Saboteur, want my pa het destyds klein rolle daarin gespeel om ‘n ekstra inkomste in te bring – die lewe was maar knap in daardie dae…

Andrea lees aldag hierdie onaardse staaltjies van tieners met bonatuurlike kragte om in diere te verander en “aliens” wat by mense se ore inkruip en hulle so oorvat en beheer (“mind you”, ek het dieselfde goed gelees toe ek kind was!). Megan sal enigeiets lees wat prinse en prinsesse bevat, of Hannah Montana of Smiley Virus en sulks.

Ek is op die oomblik besig om my droom te laat bewaarheid; ek werk aan ‘n manuskrip vir ‘n kinderboek gemik op die bogenoemde ouderdom. Ek wou nog altyd skryf en kan dit redelik doen, maar ek sit tussen drie vure: ten eerste, sal deesdae se kinders hou van wat ek skryf? Ten tweede, wat as almal dink dit is totale snert? Ten derde, en dit is die een wat ek nie verstaan nie; ek is amper bang dat dit dalk wel ‘n sukses mag wees. Maak dit sin?

Wat lees julle kinders? Wat dink julle sal deesdae se kinders van hou? Ek ken nie eintlik die skrywerskringe van Suid Afrika nie. Ek mag bevooroordeeld wees, maar dit lyk vir my op die oomblik of net die mense wat skryf oor beroemde persone of self-help gidse of ‘n skrywe oor die “struggle” enige sukses bereik. Ek ken nie eintlik enigsins ander kinderverhaal-skrywers nie, moet ek erken. Ek glo nie Brink, Konsalik of Daleen Matthee skryf met kinders in gedagte nie. Is daar enige hoop vir sukses vir kinderverhale in ons land? Ek hoop eerlikwaar so, want hierdie boek van my gaan geskryf word, kom wat wil!

Geluk Sharks

Nou-ja, daar moet ek toe nou my eie hartseer verdrink! Geluk Sharks, julle het verdien om te wen. Tot volgende keer! Gelukkig speel beide die Sharks en die Bulle met hulle B-spanne op die oomblik – die Springbokke bestaan uit altwee se A-spanne…

Vanaand se kragmeting

Dinge het verander oor die jare. Die ou vyande wat oor besit van daardie peervormige balletjie baklei het was altyd WP met hul gestreepte truie, en Noord Transvaal – ligblou trui met die Barberton Daisy. Toe klou Natal hulself uit die houtwerk, verander hulle name na die Sharks en skielik is daar hope ondersteuners. Vanaand is dit weer sulke tyd. Voorspoed aan die Sharks, maar hou maar so “ietsie” byderhand om julle sorge mee te verdrink…

Het ek nodig om enigsins iets anders te sê?

Het ek nodig om enigsins iets anders te sê?

Older Posts »