Feeds:
Bydraes
Kommentaar

Loop-en-val

Die dag is alweer grys. En ek ook.

Mens hoor mos maar altyd van die ouer garde wat val. Die een het geval (hulle verduidelik nooit hoe nie, dis asof hulle loop en die volgende oomblik lê hulle net) en ‘n heup gebreek. Daardie een het geval en ‘n been gebreek. Nou-ja, lyk my ek word ook nou oud, want ek het ook geval!

Ek is mos alweer druk besig met tuinmaak. Ek sukkel nou al hoe lankal om uiesaad te laat ontkiem (ek was seker net te ongeduldig!). Ek kry toe met baie moeite en geduld 80 plantjies aan die gang, tesame met hierdie nuwe wit “icicle” radyse en plant toe die radyse Saterdag nadat ek so bietjie boomtakke afgesaag het om die plek so bietjie lig te gee. Saterdagmiddag begin dit sagkens te reën en so met die terugloop (half kromgebuk, want die ou rug is mos ook nou half af…) met die ding met die uieplantjies in my hande gly ek op die nat gras. Ek probeer nog keer, maar kosbare uieplantjies spat eenkant toe (tol sommer so akrobaties deur die misreën) en ek slaan neer dat die aarde sommer so sidder – die katte blaas aggresief, die honde blaf asof hulle aangeval word en omtrent al die hoenders val met ‘n gekekkel van hulle stokkies af, jy sien net vere en eiers trek. Ek was verbaas die bure het nie kom kla oor die lawaai nie… Ek val toe sommer ook met mening, asof ek dit regtig bedoel het, linkerarm bo-oor ‘n afgesnyde tak en lyf bo-op arm. Nou-ja, nadat ek die klonte met ‘n geswets uit my broek geskud het van die pyn was my eerste gedagte die arme uieplantjies! Ek kon darem so 55 van die 80 red. Hulle wag nog steeds vir my om hulle te plant terwyl ek ‘n gekraakde voorarm verpiep. Die dokter wou nog gips aansit, maar toe gebruik ek toe nou maar een van my pa se geliefkoosde sêgoed : “Ag, ek het nie tyd vir sulke k…k nie!” so nou sit ek met die ding.

Dit reën nog steeds, dis koud en nou pyn my arm ook nog boonop. Is die lewe nie fantasties nie?

Oorlog op GM

Dit blyk dat my kommer oor GM (genetically modified) mielies toe nie ongegrond was nie… mielies en mieliemeel is en was nog altyd ‘n stapelvoedsel in Suid Afrika en Afrika. Alhoewel daar gesê word dat swartes die grootste gebruikers is, dink ek dat ‘n groot meerderheid blankes ook baie lief is vir ‘n pap, of dit nou vir ontbyt of saam met ‘n braai is. Slap-, stywe- of krummelpap – ek en my familie het grootgeword daarmee. Die GM-debat is al ‘n lang tyd aan die gang, maar ek het soos talle gebruikers nie eintlik notisie daarvan geneem nie, totdat studies begin uitkom het – die wat nie onderdruk was deur regerings of saad-maatskappye nie en wat nie deur hulle self onderneem is nie.

Laasweek was ‘n studie wat onderneem was in Frankryk vrygestel en die resultate daarvan is uiters skrikwekkend. Laboratorium rotte is GM mielies gevoer vir twee jaar en hier is een van die rotte wat oorleef het:

Die rotte wat GM mielies gevoer was, het ‘n sterftesyfer van meer as 50% in mannetjies en meer as 70% in wyfies gehad, en na die 24ste maand het 50-80% van die wyfies vergroeisels soos in die foto ontwikkel, terwyl die mannetjies verstopde lewers gehad het.

Miriam Mayet, die direkteur van die “African Centre for Biosafety” in Johannesburg het gesê dat die meerderheid plaaslike produkte beïnvloed word, aangesien 40% van mielies hier verbou word met ‘n variëteit genaamd NK603. Sy noem ook dat Suid Afrika die enigste land is waar mense meer as 70% GM voedsel gebruik. In ander lande is mieliemeel nie vir menslike gebruik nie. ‘n Verdere kommerpunt is natuurlik dat dit dan vir dieregebruik bedoel is – ek wil beslis nie smul aan ‘n sappige biefstuk terwyl daar dalk een-of-ander vergroeisel reg langsaan dit was as gevolg van GM nie!

Ek was skoon die were in toe ek die hele spul begin navors het. Ons word hierdie gemors gevoer sonder ons beterwete en ons voer dit nog vir ons kinders ook!

Verdere lees het getoon dat laboratorium diere op GM-kos steriel was na die derde geslag. ‘n Ander groot knelpunt is dat meeste GM saad “terminator” saad is. Nee, hulle loop nie rond met ‘n afgesaagde haelgeweer en vertel vir almal “I’ll be back…” nie! Dit beteken dat wanneer jy hulle plant, hulle wel ‘n oes lewer, maar jy kan nie daardie saad weer plant om sodoende jou eie saad te produseer nie want dit is steriel. Jy moet weer van voor af saad loop koop. Monopolie, enigiemand?

So, wat kan mens doen hieroor? Buiten elke mielie-plantasie afbrand soos wat mense in Europa gedoen het, kan ons beslis onsself beter inlig hieroor om mee te begin. Hier volg ‘n lys van skakels waar julle meer kan gaan lees oor die hele spektakel:

http://www.sowetanlive.co.za/news/business/2012/10/01/maize-poses-a-health-risk-study-finds

http://www.dailymail.co.uk/news/article-1082559/The-GM-genocide-Thousands-Indian-farmers-committing-suicide-using-genetically-modified-crops.html#ixzz283GuHRST

http://www.theecologist.org/News/news_analysis/1087730/how_india_squared_up_to_monsantos_biopiracy.html

http://theautomaticearth.com/Finance/hungary-throws-out-monsanto-and-the-imf.html

http://www.occupymonsanto360.org/2012/03/10/peru-passes-monumental-ten-year-ban-on-genetically-engineered-foods/

http://rt.com/news/monsanto-brazil-seed-soy-908/

http://rt.com/business/news/russia-monsanto-corn-ban-005/

http://www.huffingtonpost.com/2012/02/13/monsanto-guilty-paul-francois_n_1274326.html

http://www.infowars.com/poland-announces-complete-ban-on-monsantos-genetically-modified-maize/

http://www.filmsforaction.org/Watch/Food_Inc/

http://www.infowars.com/ shocking-french-study-shows-gm-foods-may-shorten-lifespan/

Ek self het begin om baie noukeurig op verpakkings te kyk of voedselprodukte GM bevat en ek is nie meer bang om winkeleienaars sommer te vra of hulle produkte GM is nie. Meeste mieliemeel-pakkies dui aan dat dit GM bevat, maar baie doen nie – wetgewing is eenvoudig net nie streng genoeg daarvoor nie. So, ek vermy nou Suid Afrikaanse mieliemeel heeltemaal. Daar is ‘n baie smaaklike alternatief – polenta. ‘n Baie gesofistikeerde naam vir geel mieliemeel. Dis nog nie GM nie en is heerlik. Daar steek ook baie meer klein plaaslike meules hulle koppe uit wat nie-GM mielies maal. Ek het op een so meule op die internet afgekom en gaan beslis vir myself mieliemeel gestel. Teen sowat R35 vir 5kg is dit heel billik.

Dit wys weereens vir my dat die mensdom (goeie woord: mens dom) eintlik baie dom is – oral waar die mens gepeuter het aan die natuur het dinge begin skeefloop. Ek skiet nie wetenskap af nie, ons trek baie voordele daaruit, maar los die natuur en ons voedsel uit!

Seepmaak lesse geleer

Die ou gesegde “Mens is nooit te oud om te leer nie” geld beslis vir seepmaak ook, al is dit net iets eenvoudigs soos boerseep. Ek moes onlangs weer ‘n groot bestelling boerseep maak (dankie Marinda!) en so paar foutjies het ingesluip en die besending in die wiele gery.

Harde werk en baie seep!

Ek deel dit graag hier sodat julle seepers dalk nie dieselfde foute begaan nie, en dalk kan julle bydra tot ‘n “Lesse Geleer”-blaai hier onder my seepblaaie? Nou goed, eerstens:

Moenie haastig wees nie:

Ek was haastig en het nie so mooi my oog op die temperature van die gesmelte vet en die loog-mengsel gehou nie. Als het goed gelyk met die bymekaargooi – die rou seepmengsel het onmiddelik mooi melkerig geword, en alhoewel dit bietjie langer roer gekos het, het dit dik geraak en kon ek dit in die gietvorms gooi, maar hier is waar die probleme begin het. Dit was na vier ure eers ferm genoeg om te sny, en toe ek dit oornag los om verder te verseep, bars die seepblokke soos wat ek nog nie gesien het nie.

‘n Hele spul blokke in hulle “glory” in…

Dit lyk amper vir my of dit te veel hitte met die jel-proses gehad het in die kern van die seep.

Amper onbruikbaar, behalwe gerasper in die wasgoed.

So:

  • Moenie haastig wees nie, weereens.
  • Maak seker beide gesmelte vet en loog is bloedloute (35 -39°C) voor jy dit bymekaar voeg.
  • Nadat jy dit gesny het, pak die blokke weer styf teenmekaar sodat hulle mekaar kan insoleer en verder “kook”.
  • Maak die styf-gepakte blokke in ‘n kombers toe vir verdere insolasie.

Gebruik ordentlike bytsoda:

Ek het doodluiters 2kg bytsoda gaan koop, my vet gesmelt, die water afgemeet en toe ek die bytsoda-emmertjies oopmaak het ek onraad geruik deurdat daar geen skerp bytende reuk was nie en die bytsoda was korrelrig instede van vlokkierig.

Lyk amper soos klonterige suiker.

Sò moet dit lyk!

Ek het in elk geval afgemeet en toe ek die bytsoda by die water voeg, gebeur daar niks.

  • Maak sommer die emmertjies in die winkel oop voordat jy koop. Ware en aktiewe bytsoda kom in vlokkies en mens kry dit soms in “pêrels” – ek neem aan dis blinkerige bolletjies seker. Die kardinale punt is: vlokkerige bytsoda is in ferm “skilfers” so groot soos vingernaels en hulle vertoon soos verdunde melk. As hulle bros is, poeierig en jy kan so sand-glinster tussenin sien, LOS!
  • Die water moet onmiddelik warm word wanneer jy die bytsoda daarby voeg. Die hitte help ook dat die bytsoda sommer vinnig begin oplos. Die mengsel sal ook skerp walms afgee en mettertyd begin helder raak soos dit afkoel. As niks soortgelyks gebeur nie, gooi weg.

Ek hoop dat dit julle sal help om dieselfde slaggate te vermy. Ek moet ook mos maar altyd op die harde manier leer!

Bees, jou ou Vettie!

Dit verbly my om te sien hoe al meer sepers wat hierdie blaaie besoek, dierevette in hulle seep begin gebruik. En hoekom nie? Dierevette het soveel fantastiese eienskappe en gebruike buiten net bloot seep daarvan maak – wat van die oumense se vetkerse, wawiele ghries, velle looi, preserveer, lampolie en natuurlik kook daarmee, om maar net ‘n paar te noem?

Ek gaan nou nie in diepte die uitkook van die vet bespreek nie – ek kan meer inligting gee as mense soek – maar laat my toe om te sê dat dit nie eintlik so stinkende proses is soos wat al beweer is nie.

Gemaalde vet, reg om gekook te word.

Lyk en ruik nie so goed nie, maar amper daar!

En mens moet dit saam met water doen om die vet mooi skoon en hard te kry.

Sonder die byvoeging van water lyk dit nie so “kwaai” nie…

Dan kan dit netjies gestoor word vir gebruik in die kombuis of in die seeppot soos verlang.

Ah, dit lyk sommer beter! En dis baie harder.

So paar stoor-idees vir maklike hergebruik.

Maar ek dwaal alweer af.

Ek het onlangs ‘n groot hoeveelheid boerseep moes maak vir ‘n groot bestelling. Gevolglik het ek nou ‘n kroeg-yskas wat amper permanent uit sy nate wil bars van skoon afgekookde beesvet. Dit het my laat begin dink oor alternatiewe gebruike daarvoor buiten die seepmaak en ek het so bietjie navorsing begin doen.

Beesvet was tradisioneel in meeste restaurante gebruik as ‘n hoë-hitte diep-braai vet want dit bly stabiel onder hoë hitte en dra ‘n heerlike geur aan die kos oor. Gedurende die 70’s is die oorslaan na saad- en plantolies bevorder deur die rafinaderye wat die “sogenaamde” voordele van hierdie poli-onversadigde olies gepropagandiseer het, en die gesondheidsorganisasies in hulle sakke.

My vraag is natuurlik: as versadigde olies soos beesvet hartsiekte en oorgewigdheid tot gevolg het, hoekom is hartsiekte en oorgewigdheid dan ‘n epidemie juis in hierdie era van ons wanneer daar beswaarlik van beesvet/dierevet gebruik gemaak word soos in die ou dae?

Ek betwis nie die wonderlike eienskappe van geparsde olyfolie, grapeseed-olie, avocado-olie en sulks nie, dis net eintlik jammer dat die owerhede en gesondheidsorganisasies steeds die gebruik van hierdie ander hoogs gerafineerde poli-onversadigde olies aanbeveel. Hierdie olies is seker die grootste bydraers tot oorgewigdheid, suikersiekte, hartsiekte en tot kanker. Die rede hoekom ek so sê is dat hierdie plantolies so erg gerafineerd is en dus giftige elemente bevat. Die olies raak onstabiel met hoë hitte en dan oksideer hulle. Oksidasie veroorsaak vrye radikale en hulle op hulle beurt beskadig selle, weefsel en organe in die liggaam. Die skade sluit sel-membraan skade in, wat die basis vorm vir ‘n reeks ander kwale.

In kontras is versadigde vette vanaf diere wat beskaaflik op natuurlike weiding grootgemaak is, beskermend en nodig vir ‘n gesonde liggaam. Hierdie is die vet wat ons voorvaders vir eeue gebruik het voor die aankoms van plantolie-rafinaderye.

As mens regtig om redes wil gaan soek om eerder beesvet te gebruik (en dit is nie net beesvet goedpraat nie!) spring die volgende vier redes na vore:

  • Vir hoë hitte bak/braai is dit seker een van die beste olies aangesien dit stabiel bly, ‘n hoë (450 grade C) rookpunt het (die punt waar olie begin rook wanneer die hitte te hoog is), nie oksideer nie en dus nie vrye radikale produseer nie.
  • Dit is klinies bewys dat beesvet beskerm teen metastatiese borskanker. Die vetsure bevorder die teengewas-eienskappe van ons selle.
  • Die inname van beesvet bevorder sterk beenvorming aangesien daar natuurlike vitamiene D in die vet is. Varkvet is nog hoër in vitamiene D.
  • Versadigde vette soos beesvet is ‘n uitstekende bron van energie vir die menslike liggaam om te gebruik. Baie van die probleme wat mense het met metabolisme, pre-suikersiekte en volle suikersiekte is te danke aan ‘n oorvloed suikers in die vorm van leë koolhidraad kalorieë. Dit verg dan baie insulien om bloedsuiker te reguleer en om oortollige kalorieë te stoor as vet. Hierdie konstante tekort dan aan insulien veroorsaak die probleem van insulien-weerstand en dit ontwikkel in suikersiekte.

As ons meer “goeie” vet en minder suiker gebruik, sal ons baie beter af wees. Maar, soos met alle ander dinge moet matigheid voor oë gehou word, anders sukkel mens weer van voor af om van daardie “love handles” ontslae te raak!

My Uitkoms

Ek haat my werk…

Miskien nie my werk nie, maar wat dit verteenwoordig vir my: onderwerping aan die genade en buie van ander in die nimmereindigende strewe om net te oorleef. Werk gedoen hoofsaaklik om ander te verryk. ‘n Geldstelsel waarvan ons soos slawe afhanklik gemaak is, wat gemik is daarop om die samelewing te verneuk en bedrieg. ‘n Goddelose regering wat skaamteloos van hierdie sisteem gebruik maak. ‘n Volk sonder roeping, geesdrif, passie en geloof.

Ek moet wegkom.

Die stuurwiel bewe onder my hande wanneer teer na grondpad verander; hande wat dieselfde stuurwiel vasgeklem het in frustrasie van ander se onbevoegdheid op die paaie. Nou is ek alleen. My gedagtes word weggetrek van geld, oorlewing, myself heeltyd regverdig en ander se hoogmoedigheid en bedrog na eenvoud; soek ‘n spoortjie in die grondpad waar ‘n slaggat my nie sonder wiel of onderstel sal laat nie. In verbygang let ek op dat een buurman se weiding kniediep welige groen staan, ‘n ander se beeste sport vars brandmerke op swaaiende boude en buurvrou se skaapooie staan beskermend om wankelrige lammers. Na wat soos ure voel in ‘n limbus van inwendige worstelinge met die frustrasies en hartseer van ons modern alledaagse samelewing, is die uitdraai skielik voor my. Ek skuif af na eerste rat en laat die voertuig eers lui-lui by die helling afloop, dan sien ek amper eers weer wat om my is. Ek stop net daar, sluit die motor af en klim uit, dan maak ek my oë toe en laat dit oor my spoel…

My verstand is eers verbysterd oor die ontneming van geraas, frustrasies, dink-dink-dink, my ore ‘n skrille getuit van die skielike stilte. Ek voel hoe my gemoed al worstelend ook begin stil raak; ‘n glas-oppervlak kort-kort versteur deur die drup-drup van ‘n dwalende opstandige gedagte. Opeens ontwaak my sintuie en ek voel hoe my honger siel oopmaak om als in te neem en niks te mis nie. Ek ruik die bos – nee, ek ruik die groen van veldgras, die soet van ‘n doringboom en die eksoties van wilde kruie. Deur als ruik ek grond, aarde. Die skril tuit in my ore word verdof deur voëlgesang, besies en ‘n magdom ander veldgeluide – suisende gras wat elegant buig saam met ‘n soutbelaaide bries, takke wat kraak-kraak hulle stemme byvoeg.

Ek veeg ingedagte oor die nattigheid op my wange. Trane? Ja, maar van verligting en genesing. Ek klim weer in en ry stadig verder maar ek probeer die tog sover moontlik uitrek; ek stop onder by die rivier, klim weer uit en sit met my kaal voete in die helderskoon water, kabbelend oor blinkgladde klippe. Die son skyn ‘n reenboog-gordyn in die sproei en nooi my uit om verder te reis. Ek ry stadig verder, verby stywe doringdraad waaragter impala, zebra en blesbok my half-agterdogtig beloer, verby bloekombos en basboom-woud en ek is tuis. Hier kan ek werk; nie vir geld nie, maar vir eie tafel sonder verneuk, hoogmoedigheid en bedrieging. Hier kan ek my roeping vind wat ek so lank gelede laat vaar het vir ‘n plek in die samelewing. Geesdrif diep begrawe borrel na vore; ek voel al seer hande, stywe spiere en songebrande vel, maar ek proe ook selfvoorsiening, trots en welgemoed. Hier kan ek my passie – vir my geliefdes, die lewe en die aarde – vurig hernu. Hier word my geloof weer versterk deur elke oomblik se intense ervaring.

My uitkoms.

Oorlewing en kos

‘n Voorspoedige en geseënde nuwe jaar aan almal! Ek hoop almal het ‘n heerlike vakansie en goeie rus gehad.

So, hier is ons nou in 2012 – die jaar van groot dinge, soos deur sekeres aangevoer. Soveel mense het my nou al gekontak en uitgevra oor voorbereidings vir moontlike rampe en alhoevel ek nie ‘n absolute kenner is oor die saak nie gaan ek vandag daaroor gesels.

Ek is seker dat meeste van ons bewus is van al die voorspellings vir die jaar, veral rondom 21 Desember 2012. Meeste het seker ook al ten minste die onwaarskynlike fliek “2012” gesien of die program op Kyknet oor Oorlewing 2012. Ek wil weereens ‘n vrywaring as sulks stel – ek voorspel glad nie dat rampe ons gaan tref, die einde van die wêreld gaan plaasvind of ruimtemannetjies gaan land en ons almal in slawe gaan verander nie. Ek sê geensins dat almal ewe skielik maande se kos moet opberg, leer om termiete te eet, ondergrondse skuilings moet bou of kettierekke en patrone moet koop nie.Ek hou wel al ‘n geruime tyd wêreldgebeure, natuurlike rampe soos vloede, erg winterkoue in die noordelike halfrond, toenemende vulkaniese aktiwiteit onderwater en op land en gebeure (of ‘n tekort daarvan) op ons son dop, om maar net ‘n paar te noem. Ek het net so “gevoel” dat daar iets skort en dat iets gaan gebeur. So, ek tref voorbereiding ingeval iets gebeur. As niks gebeur nie, jippie! Dan het ek so bietjie meer kos en ander benodigdhede in die kas en ek weet hoe om ‘n brood in ‘n miershoop te bak of biltong te maak uit veldrotte. MAAR, as iets wel sou gebeur, weet ek ten minste dat ek en my familie nie van die honger sal omkom of onveilig sal wees nie, en ons sal ‘n toekoms hê.

Sonder om in te veel fyner besonderhede in te gaan; om wyd saam te vat (ek is geen kenner nie) bestaan my voorbereiding uit die volgende:

  • Soos genoem, hou wêreldprobleme dop en ore oop.
  • Besluit op moontlike ramp omstandighede. (Vloed, aardbewing, Eskom J)
  • Besluit wat benodig word vir elke “scenario”. (Kos, klere, wapens en medies)
  • Dink aan die toekoms – saad, pluimvee ens. – jy mag dalk nie kan terugkeer na jou huis nie.
  • Besluit waarheen om te vlug. (veilige voortbestaan)
  • Kry als reg om vining die pad te kan vat.

Een van die meer basiese behoeftes en groot bekommernis daar tussen skuiling, veiligheid en hitte is kos en water. In die weermag het ons vir dae aaneen op rantsoenpakke of “rat-packs” geleef en ons eie water uit riviere gesuiwer. Mens kan wel sulke rantsoenpakke op die internet bestel, maar teen R 65 sonder die posgeld. Ek dink as mens mooi die ding gaan bekyk kan mens dalk met goedkoper wegkom. Die weermag rantsoenpakke was heel voldoende en ek dink dis ‘n goeie voorbeeld om te gebruik vir die aanmekaarslaan van ons eie weergawes. Kom ons kyk gou na die inhoud van die basiese weermag rantsoenpak:

  • 4 Lang polyethelene sakkies
  • 2 Blikkieskos
  • 2 Sjokolade energiestafies
  • 2 “Cheesies” (geprosesseerde kaas)
  • 8 Vuurtablette
  • 1 Pakkie vuurhoutjies
  • 2 Pakkies droë beskuitjies (Dogbiscuits in die weermag)
  • 2 Stafies versuikerde droë vrugte
  • 1 Pakkie woestersous
  • 1 Pakkie tamatiesous
  • 6 Pakkies suiker
  • 2 Pakkies sout
  • 1 Pakkie peper
  • 2 Pakkies kitskoffie met verromer by
  • 2 Pakkies kitstee met verromer by
  • 2 Pakkies kitssop
  • 1 Pakkie kitspap of 2 graanstafies
  • 2 Pakkies aanmaak koeldrank
  • 2 Rolle energie lekkergoed (soos Super C)
  • 4 Stukkies kougom
  • 1 klein blikoopmakertjie

Dit het my ‘n goeie beginpunt gegee vir die probleem van kos vir 24 uur – al wat ek nou moet besluit is hoe om dit te verpak; wil ek dit net in ‘n groot “Ziploc” sakkie sit vir maklike berging wat min plek opneem? Wil ek dit dalk in iets soos ‘n leë koffieblik sit wat ek as ‘n ketel of emmertjie ook kan gebruik en ander goed ook in kan stoor soos mediese goed, hoeke, vislyn, tou ens. en moontlik een liter water? Of moet ek dalk een volledige stel in ‘n koffieblik doen en die res in sakkies? Die keuses hang af van die grootte van die rugsak en die krag in die skouers wat dit moet dra.

Mens kan die sakkies en blikke aanmekaarsit, dit in rugsakke vir elkeen inpak en gereed sit om te “gryp en gaan”, of so paar in die motor se kattebak bêre en so meer. Mens sal net moet versigtig wees om te kyk na als se vervaldatums.

Ek sal baie graag wil hoor van enige voorstelle. Hoewel, voordat kommentaar soos “snert” of “doemprofeet” of “God alleen weet wanneer die einde van die wêreld is” begin instroom, lees maar weer die vrywaring aan die begin van die skrywe. Lekker voorberei, en ek hoop van harte dat dit nie nodig sal wees nie!

Botter of Margarien?

Daar is darem niks so eie aan ons land as ‘n stomende vars-gebakte skaapwagter-sny brood met regte botter op nie. Of botter heerlik gesmelt oor ‘n stomende groenmielie!

Margarien is ‘n goedkoper alternatief en daar word altyd aangevoer hoe gesonder dit is teenoor botter, maar is dit werklik so? Vir eers, kom ons kyk na ‘n kort geskiedenis van margarien.

Margarien het sy oorsprong destyds in 1866 in Frankryk, toe die Franse regering ‘n kompetisie begin het wat navorsing wou lok vir die ontwikkeling van ‘n billike voedingswaardige vet om as plaasvervanger vir botter te gebruik.

Drie jaar later is ‘n resep ontdek wat afgeroomde melk en beesvet gebruik het, en ‘n patent is geskep in Frankryk en Engeland. Die patent is in 1871 verkoop aan die Hollandse firma Jurgens (nie die karavane nie!) en die firma het later die reuse Unilever geword, vanuit ‘n samesmelting van die Britse seepmakers Lever Brothers en die Hollandse produsent Margarine Uni. Die samesmelting was ‘n logiese stap, want palm olie was ‘n groot ru-bestandeel vir beide firmas en dit kon meer effektief op groot skaal so ingevoer word.

Die eerste margarien-fabriek in Duitsland was gebou in 1872 en die eerste Amerikaanse fabriek tussen 1874 en 1876. In 1890 het die vleisverpakking-monopolie die pryse van vark- en beesvet beheer – altwee vette was gebruik om seep en kerse te maak. ‘n Kersmaker en seepmaker het toe besluit om saam te smelt met die doel om beheer te kry oor die katoensaad-olie bedryf en so dierevet en die verpakkers uit die kers- en seep-besigheid te dryf. Hulle was suksesvol en gevolglik in 1909 is ook die proses van hidrering (hydrogening) uitgevind – die proses om waterstof-atome by die vetsuur-ketting in te dwing. Na dit het sojaboon-olie die hoof bestandeel van margarien geword. Teen die middle 1930’s was margarien klaar hoofsaaklik uit hidreerde sojaboon-olie gemaak, met die byvoeging van vitamiene A en D. Gedurende die depressie-jare het die gebruik van margarien baie verhoog, en nog verder tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe botter hoofsaaklik bestem was vir die soldate wat in Europa geveg het.

So, wat is so sleg aan margarien, vra jy seker teen die tyd. Om daardie vraag te beantwoord, moet mens kyk na die maak daarvan. In ons “moderne” era is die produksie van margarien ‘n afstootlike proses wat verskeie skadelike chemikalieë inspan. Hier is so vinnige oorsig van die proses:

Dit lyk glad nie aptytwekkend nie...

  • Plantaardige olies word verkry deur sade soos bv. sojabone, mielies, katoensaad of canola te pers met hoë hitte om sodoende die olie uit te forseer.
  • Hitte en lig versnel die reaksie tussen poli-onversadigde vette en suurstof, so die uittrekkingsproses veroorsaak dat die olies gou galsterig raak, met die gepaardgaande reuke en geure.
  • Enige olie wat dalk in die saad-pulp agtergebly het, word uitgetrek met die gebruik van heksaan, bekend as neurotoksies.
  • Die ru-olie word dan ontgom met suur om ander onsuiwerhede te verwyder, en ‘n bytsoda word bygevoeg om die suur te neutraliseer agterna.
  • Die resultaat – ‘n grys stink olie, word gebleik met “Fuller’s Earth” (dieselfde bestandeel in kat-gruis) en gefiltreer.
  • Die galsterige reuke word verwyder met ‘n hoë-hitte stoomproses, wat ongelukkig ook al die oorblywende voedingstowwe en antioksidante vankant maak.
  • Die gerafineerde olie word gemeng met ‘n nikkel katalis en word blootgestel aan waterstof onder hoë druk en temperatuur, wat waterstof-atome in die olie-molekule inforseer. Die resultaat is ‘n gedeeltelik soliede en versadigde-vet produk. Dit is ook hierdie proses (hydrogenation) wat gevaarlike trans-vette skep, wat verantwoordelik is vir inflammasie, insulien-weerstand en ander gesondheidsprobleme.
  • Die gevolglike grys, stinkende ghries word dan gefiltreer om die oorblywende nikkel en ander vasgevangde vastestowwe te verwyder.
  • Die ghries word dan gemeng met seep-soortige emulsifiseerders, en word weer stoom-skoongemaak om die slegte reuke te verwyder.
  • Die mengsel word dan weer gebleik om die grys kleur te verwyder en kunsmatige geure, sintetiese vitamiene en natuurlike kleurstowwe (sintetiese kleurstof is mos gevaarlik!)word bygevoeg om die voorkoms, voedingswaarde en smaak te verbeter.
  • Die konkoksie word nou in bakkies gegiet en versprei om verkoop te word.
  • Laastens word slim advertensies en bemarking gebruik om die produk te bevorder as gesond aan ‘n nikswetende publiek, gewoonlik met die volle aanbeveling van verskeie wetenskaplikes, dokters, voedingsdeskundiges en gesondheidsowerhede.

Dit lyk dan mos so onskuldig...

Ek het tydens navorsing van hierdie skrywe behoorlik gegril. Hoeveel jare al gebruik ons en ons kinders nou al margarien? Ons gebruik nie soveel dat ‘n oorslaan na skoon rou botter ons hele begroting gaan kelder nie, want wragtig, in die Botter vs Margarien debat, wen botter loshande!