Wat ‘n luisterryke juweel is ons taal nie! Die spraak en aanhoor daarvan vorm beelde van diep kultuur, patriotisme en intellek, ten spyte dat ander net glotale stops, harde konsonante en mond-buigende vokale hoor. Daar bestaan nie ‘n ander taal waarin algemene items, persone of tonele met soveel fleur beskryf kan word dat dit ‘n mengelmoes van woede, heimwee, humor, ongeloof, skoonheid, teerheid, bewondering en soveel ander menslike emosies kan ontlok nie.
Ons het soveel beskrywende diamante – van die eenvoudigste woorde tot die lange baanbrekers, maar soos met alles is daar onaanhoorbare verbasterings, anglisismes, vermengings en verbuigings. Anglisismes, veral, is een van my troetelhate. Vermengings van tale kan ek hanteer tot op ‘n punt wanneer dit duidelik word dat die spreker net te lui is om vir die regte woorde te soek. Buiten vloekwoorde, waarvan daar kleurryke variasies en kombinasies is, is daar woorde wat ek pragtig en roerend vind, ander waar daar miskien ‘n beter alternatief kon wees, maar alles deel van die geheel. Ek wil graag met julle deel wat ek mooi en nie-so-mooi ag:
Mooi:
Snoesig – kan jy al hierdie prentjie vorm van wollerige winter-hitte en gemaklike ontspanning terwyl die elemente buite woed?
Sneeu – rol so lekker van die tong af. Amper so lekker soos “Snoesig”.
Plaas – die woord self is effe uitgestrek, soos oop wuiwende koringlande, herfsgeel en oesgereed met skoon winterblou lug wat oorhoofs waghou.
Kabbel – kan jy dit nie al hoor nie? Helder aardskoue water speels oor blinkswart klippe, met beloftes van lafenis en hernuwing.
Vaderland – ek sien beelde van growwe werkshande wat aarde verwerk en erfenis skep, maar met dieselfde hande ‘n pasgebore seën in dankbaarheid hemelwaarts kan lig.
Kaneel – klink na poeierige sagte warmte, ouma se arms en aromas uit die spens.
Kaggel – my kinders se lui tongetjies verseg om die woord te vorm. Ek sien en ruik steenkool-roet, pikdonker op my hande, maar ook geselligheid en samesyn, vlamme weerkaats in geurige donker hare en ‘n glasie klokhelder geklink.
Tierlangtynkie – die woord is sommer ‘n beslommernis (nog ‘n mooi woord). Ek sien die koperblink krulletjies van Indiese juwele en versierings, donker smeulende oë en halfoop skarlaken lippe agter die satyn drogbeeld van ‘n sluier en ritmiese passies met klokkies om slanke enkels.
Borrelbad – ek sien en hoor melktand-giggels, pruimedant-handjies agterna en warm lyfies in snoesige handdoeke toegedraai.
Nie so Mooi:
Kos – aaklige woord, soortgelyk aan ‘n woord met ‘n “t” ingevoeg voor die “s”. Ek sien ‘n swetende vraat wat met bewende hande sy pofferige kieste volstop. Maar die woord “kos” kan weer mooigemaak word met byvoegsels; dit kan “boerekos” raak, wat die rokerige aroma van ‘n stomende potjie mag beteken, of beelde van voorskote, meelbedekte hande en oondgebak. Die verkleining “kossies” is ‘n kind-woord van deernis en omsien. “Eet jou kossies, my liefling.”
Graaf – ek hoor geroeste implemente wat sonder omgee grond skend en wonde laat.
Verkrag – ‘n gepaste mingesproke woord vir ‘n afskuwelike daad van lafhartigheid en onmenslikheid. Nie eers diere doen dit nie.
Pes – ek sien ‘n geboë uitgeteerde wese met verrotte tande, veneinige oë en wilde harigheid, verderf op asem en aanraking.
Barakke – ‘n koueskouer beskrywing van huisvesting. Enige assosiasie met “huis” behoort te dui op geselligheid, sekuriteit en verwelkoming.
Seks – (ek moes hom byvoeg!) wat ‘n kras beskrywing van nie ‘n selfdienende daad nie, maar ‘n belewenis van emosies, sensasies, vertroue, openbaring en bewondering.
Kraam – is dit nodig dat ek verduidelik?
Ek het beslis nie almal genoem nie – daar is nog vele. Ek is wel seker dat almal hul eie gunstelinge en lelikes kan opnoem. Laat ons hoor!
He he….troetelhate….nog nie daai een in die HAT gewaar nie.
Jy vergeet natuurlik van: knuppeldik – ek sien ‘n plomp kaboutertjie met ‘n rond-geëete pensie, wangietjies rooi van lekkerkry.
En: fors – ek sien dadelik vir Brad Pitt as Achilles in Troy!
Twilight, wat was die oulike woord vir ‘n ‘handyman” wat jy so ‘n ruk terug op jou blog gebruik het?
Hmm, ja, so bietjie van ‘n selfgemaakte woord…. Ja! Ek kan jou kaboutertjie sien: pensie wat so tussen hempie en broekie uitloer en ogies amper toegeknyp in so breë glimlag – pragtige woord. En ek stem – Achilles was sulke doelgerigte fors wat jou na jou asem laat snak het en vra: hoe de dinges het die ander ou gedink hy staan enige kans? Goeie een!
Ek onthou ook Twilight se mooi woord – sy moet ons bietjie kom wysmaak!
O ja! Nog twee baie beskrywende woorde is: konkoksie – ek dink borrelende, rokerige pers of groen mengsel van twyfelagtige oorsprong en: brousel – ek sien swart driepootpot met sopperige, klonterige inhoud wat geroer word deur een met lang grys hare, ‘n baie krom neus met ‘n Nanny Mcphee moesie daarop.
Ek sien jou konkoksie – as die borrels so pop dan trek daar so rokie! Ek sien dit ook in hierdie organisasie van blinkende proefbuise en krullende pypies op ‘n dik werksbank vol chemiese brandmerke, die atmosfeer deurtrek met die geur van kruie. Mooi een!
Jou brousel is reg op die merk!
Dion 10 / 10 vir hierdie inskrywing!!
Ek haat die woord – aborsie dit is moord en klaar het daardie ietsie gevra om in jou te groei?
Lekker middag vir julle!! Gelukkig gaan ek nou loop, tot later!!
Dankie! Ek stem. Lekker middag ook – jy’s gelukkig om nou al te laat spaander!
Kaneel weet jy wat ruik lekker in die winter as jy water in ‘n potjie gooi, so paar stukkies heel kaneel daarin voeg en dan cloves HAAI ek kan nou nie dink wat dit in Afrikaans is nie, dit ruik hemels, daardie geur vul mens se hele huis!!
Naeltjies. Lekker sterk geur. Jou kombinasie klink lieflik geurig. Ek hoor dat as jy ‘n lekker rooiwyn by jou mengsel gaan byvoeg en dit effe opwarm, dit een van daardie winterdrankies is wat jou met so bekruipslag moederloos laat voordat jy dit besef!
My pa glo as hy in enige plek instap SAL jy hom help in Afrikaans!! As jy nie kan nie loop hy daaruit!!
Ek dink meeste verstaan in elk geval Afrikaans, maar sekeres hou hulle net dom en verseg om dit te praat. Dis mos maar altyd onse mense wat moet aanpas!
Knoffel. Ek sien sommer die kieme spat.
Watertand. Wegholsukses. Magtag. Jissie.
Ai, ek kan aangaan en die comment vol skryf, maar dis nie die doel van jou oefening nie.
JA! Ons het ‘n towertaal.
Knoffel… pantoffel… kardoes… opgedos… daar’s nie einde nie!
Ek verpes die uitdrukking: op die einde van die dag en ook uit die aard van die saak.
Ek is mal oor die gediggie: verflenterde kaalvoet klonkie wat groente verkoop in die reen….
koffiebeker is my gunsteling woord, meer oor die inhoud natuurlik.
Metroman maak my tanne stomp….
Seg Bloedbek
PS. Ek hou ook nie van die woord ‘seg’ nie, maar dis beter as se, soos in se, nie se wat nie, net om dit te verduidelik is ‘n raaisel, dit is bloot omlaat ek nie weet hoe om die leestekens in te voeg nie. 🙂
Ek stem, daar is nie net sekere woorde nie, maar ook uitdrukkings wat my de herrie in maak, bv. instede om saam te stem, of net ja te sê, sê sekere mense “korrek” as jy ‘n vraag vra. Is hulle onderwysers? (Nie dat ek iets sogenaamd teen onderwysers het nie). Is ek besig om ‘n toets te skryf? “Is hierdie mes se plek in die laai?” “Korrek.” 10 uit 10. Jy slaag. ‘n Blote “ja” sou dieselfde werk gedoen het sonder om jou minder intelligent te laat klink!
Ons was kleintyd ‘n woordeboek in die hand gestop. Mag nie Engelse woord in ‘n Afrikaanse gesprek gebruik het nie. Tog het soveel Engelse woorde al verafrikaans. As ek hoor aan die einde van die reënboog sien ek feetjies en sampioen huisies.
Ek moet maar nog steeds die woordeboek nadersleep terwyl ek skryf, en baiekeer is die Afrikaanse weergawes van engelse woorde totaal vreemd – ek bedoel, wie praat nou van ‘n koppelaar, moersleutel of toetsbord? Ons ken dit almal as ‘n clutch, spanner en keyboard, ja?
Hi Dion,
Gedink ek sal maar hier ook ‘my eiertjie le’ (vir my net so ‘n mooi uitdrukking):
Het jy al opgelet hoe daar in Afrikaans net een woord is vir sekere konsepte wat Engels as apart wil sien:
1. Leer. As ek se ‘ek gaan leer’, weet jy nie of ek gaan ‘teach’ of ‘learn’ nie. Maar eintlik is dit presies dieselfde ding.
2. Heel. As ek se ‘ek word heel’, weet jy nie of ek ‘heal’ of ‘whole’ nie. En weereens is dit een en dieselfde ding…
En kyk net as mens woorde so effe uitmekaar trek:
1. Toevallig: Toe-val-Lig – eintlik ‘n baie meer akkurate weerspieeling as die Engelse ‘synchronicity’
Daar is nog heelwat sulkes as mens net ‘aware’ genoeg is. 🙂
Groete
He-in-rich(es)
Dion en al die ander wat hier lees ek gaan net nou spesiaal vir Dion foto’s van ‘n vuvuzela op my blog hê, dit sal 15.15 verskyn!! Kyk ek weet nie wie die ding gaan blaas nie nog minder hoe dit gaan klink … seker erger as ‘n boot wat ‘n hawe invaar 😉
Die goed spook tot in my drome! Maar ek sal gaan kyk… Stouterd!
Meermin, is daar iets spesiaals aan 15.15, hoekom nie 15.14 of 15.16 nie? Of is dit jou tea break?
@ bloedbek ek doen al my blog inskrywing op blogdesk en van die inskrywings is soms ‘n maand vooruit al gedoen, jy kan enige datum en tyd kies en dit sal op daai dag op daai minuut op jou blog verskyn. As ek met vakansie gaan, hou ek die mense wat my blog lees besig met ‘n hordes inskrywings en dies meer.
Dit lyk na ‘n goeie program – ek sal beslis daarna gaan kyk. Dankie!
dankie meermin, nou weet ek ook wat om te doen om darem gereeld die lesers se belangstelling te behou, want ek loop maar lekker rond en dan gaan dae verby wat daar niks aangaan nie.
Google net blogdesk en dan download jy dit!!
Ek dank u meermin, dit gaan die blog ding aansienlik vergemaklik.
Nav Heinrich se bydraeleer is nogal ‘n tamaletjie…dit kan ook die ding wees wat jy opklim en soms afval of dit kan ook oorlog se mense wees, maar meer nog as jy nie weet van leestekens nie kan dit ook nog die ding wees waarin jy papiere wegsteek of in vergeet.
Blo-ed-bek (maak glad nie sin nie, in ingels dalk blow it back)
Of tensy jou naam Ed is: Blo-ED-back… Jy mag dalk ‘n sterk windjie nodig hê!