Het enige van julle al Camomile tee gedrink? Vir my part kon ek netsowel my eie kouse gerook het, dit proe so erg, maar die terapeutiese en kalmerende eienskappe daarvan word nie in twyfel getrek nie. ‘n Seep gemaak met Camomile-bestandele het dieselfde aromaterapeutiese waarde en hangende af van wat saam bygesit is by die seep, kan dit ‘n wonderlike byvoeging tot die badkamerkassie wees. In byvoorbeeld ‘n kombinasie met voedende vel-olies en suurlemoen-gras is dit strelend, anti-bakteries en wys fungusse die pad, en dit hou boonop insekte ook weg. Vandag se seep is effe duur om te maak, maar beslis die moeite werd.
510g Kokosneut olie (So R 65.00 – kokosneut olie is duur)
560g Olyfolie (So R 35.00)
170g Soet Amandel-olie (Klein duur botteltjies – So R 70.00)
184g Bytsoda (Caustic soda)
455ml Skoon water
10ml Camomile essential olie
5ml Lemongrass essential olie
2 x Camomile teesakkies
Maak eers ‘n lekker sterk tee met die twee teesakkies en laat dit geheel en al afkoel. Haal die teesakkies uit – moet hulle nog nie weggooi nie – en maak seker dat jou water/tee mates reg is. Voeg die bytsoda stadig en versigtig by, los mooi op en los om af te koel. Smelt die kokosneut olie en voeg die ander olies by. Laat ook afkoel. Wanneer die bytsoda/tee-mengsel en die olies altwee liggaamstemperatuur is, voeg die bytsoda by die olies. Roer.
Wanneer stolpunt amper bereik word – onthou, soos kitspoeding net voor dit yskas toe gaan – skeur die teesakkies oop en meng die inhoud goed deur. Gooi nou jou essential olies by, maak seker dat dit ook goed deurgemeng is en gooi die mengsel oor in jou gietvorms. Haal na 1 dag uit en sny, en kuur vir 4 weke voor gebruik.
Met die stukkies tee in het dit ‘n effe growwe tekstuur wat goed “exfoliate” en dit het ‘n heerlike vars kruiegeur. Die kombinasie van olies – veral die amandel-olie – is vreeslik goed vir droë vel en jy sou jou hare ook daarmee kon was, was dit nou nie vir die stukkies tee nie. Ek dink mens mag dalk sukkel om die stukkies uit te kam.
Lekker seep maak!
Jy drink, lyk my, te veel van daai rustige tee! Gaan ons nou nooit weer ‘n bloginskrywing kry nie?
Het jy al GREEN TEA gedrink – sies dit is nou slegter as sleg!!
Ja-nee kyk, ek rook eerder my eie kouse as om geforseer te word om gereeld “green tea” te drink! Green tea het wel goeie eienskappe vir vel- en haresorg, en ek wil binnekort iets probeer in ‘n seep of sjampoe. Ek hoop dit werk beter as wat dit smaak! Lekker naweek vir jou ook.