Ek was nog nooit ‘n mannetjie wat inderhaas koud gekry het nie. Selfs in die bevrore dieptes van winter slaap ek bo-op die komberse met ‘n sweetpak aan. In die somer sit ek al wat ‘n lugversorger is aan sover ek gaan. Ek het alewig sonde met die manne by die werk – hulle weier volstrek om ‘n baadjie of trui oor hulle koppe te trek wanneer die lugversorger ooreiwerig raak, maar in die winter moet ek maar net my oë en neus toeknyp vir hulle verwarmers wat mens meer siek maak as warm. Dan wil hulle my wysmaak dat lugversorgers mens siek maak!
Elk geval – as die winter al so begin vat-vat aan jou kousbedekte tone en met slinkse koue vingers deur jou ledemate trek, begin jy seker weer verlang na die hitte, kleure en geure van somer. Al ‘n somer in die Karoo beleef? Buiten die verseggende hitte is daar sekere geure uniek aan die seisoen daar, en ek het dit probeer vasvang in ‘n seep wat jou hart ‘n punt sal wil laat trek na die dorre streek. So, vir Karoo Somer maak jy soos volg:
227g Olyfolie
114g Kokosneut olie (nie melk nie)
114g Palm olie (jy kan ook “beef dripping” gebruik as jy nie palm olie kan kry nie)
65g Bytsoda (NaOH, in die winkels as “Caustic Soda”)
159ml Gesuiwerde water.
Soos in ‘n vorige bydrae verduidelik, voeg die bytsoda by die water en terwyl dit afkoel. smelt jou vette en olies. Kombineer by liggaamstemperatuur, roer en amper by die stolpunt, voeg 1 teelepel Sandalwood geurolie, 1 teelepel Patchouli essential olie en een eetlepel fyngemaalde roosmaryn by. Dit gaan die mooiste kolletjies en tekstuur aan die seep verleen, amper so ligte skurigheid. Gooi in jou gietvorms, laat stol vir een dag, sny en plaas op droograkkies en laat kuur vir ‘m maand.
Hierdie is ‘n klein mengsel – altesaam minder as 710g, maar jy kan dit natuurlik in dieselfde verhoudinge vermenigvuldig met die mate wat jy benodig. As jy ‘n mooi sonnige kleur daaraan wil verleen, meng ‘n teelepel borrie saam met die roosmaryn in – dit ruik ook heerlik, dis natuurlik, en moenie bekommerd wees nie; dit sal niks vlek na die kuurtydperk nie.
Nou-ja toe, loop maak seep! Ek is alweer in die tuin besig om wintergewasse te plant – ons wil binnekort baby-marrows, boontjies en pampoen eet, so ek het baie werk om ontslae te raak van die bossies wat so ewe skielik uit die grond geduik het na die ou bietjie reën wat ons gekry het.
Dankie, ewig dankie
Waar kry ek palm olie?
Net ‘n plesier. Ek kon tot dusver nog net die een dametjie in Johannesburg raakloop wat dit baie billik verkoop en vir jou sal aanstuur. Die skakel is http://funwithsoap.co.za/home_3.html. Sy het selfs ook van die meer seldsame olies vir hare, soos jojoba. Sy bemark ook natuurlike kleurstof en daar is ook heelwat resepte, selfs net vir handeroom of bad-bomme. Ek kan palm-olie glad nie plaaslik kry nie.