Ek het al so geruime tyd gelede belowe om seepresepte op te sit, en ek kom nou daardie belofte na. Instede van ander se resepte te verander en te gebruik, het ek ‘n bytsoda berekening van die alwetende internet afgelaai en ek werk gevolglik my eie resepte uit met bestandele wat redelik maklik bekombaar is. Ek het veral belangstelling gehad in sjampoe sepe – dieselfde of meer voedingswaarde vir hare maar in ‘n gerieflike blok wat baie makliker veral op vakansies werk. Ek stel julle dan voor aan “Dion se Roosmaryn en Brandnetel Sjampoe Seep”!
Eerstens ‘n waarskuwing – roosmaryn is matig neurotoksies. Dit behoort vermy te word deur verwagtende dames en mense wat aan epilepsie ly of net mense wat koorsig is. Die goeie eienskappe: roosmaryn-olie word gewoonlik gebruik vir spierpyne, lid-pyne (joints), slegte sirkulasie en rumatiek onder andere, maar die haarsorg-gedeelte is fantasties – dit is baie goed vir jou vel, dit werk teen skilfers en dit is bewys dat gereelde gebruik grys hare natuurlik “wegsteek”. Dit ruik ook natuurlik heerlik vars, kruierig, effe soet en amper medisinaal. Brandnetel tee is besonder kondisionerend vir vel en werk baie hard teen skilfers. Die seep is mooi spierwit en medium-hard, en skuim baie lekker. Geen “conditioner” is nodig na ‘n was nie, maar as jy regtig jou hare wil goed behandel na ‘n was, meng ‘n half-koppie appel-asyn in ‘n wasbak lou-warm water en spoel jou hare deur daarmee. Jy sal verbaas wees oor die resultate, en nee, jou hare ruik nie na asyn agterna nie.
Aangaande die bestandele in die seep – bytsoda kan jy by enige hardewarewinkel koop in klein 500g emmertjies as “Caustic Soda”. Hou dit altyd droog en moenie daaraan ruik nie! Meeste van die olies kan mens deesdae in die supermarkte koop in 250ml botteltjies. Die roosmaryn olie en brandnetel tee kan mens by gesondheidswinkels of apteke kry. Moenie bang wees vir die beesvet in die seep nie – skoon beesvet is baie goed vir jou vel en verstop glad nie porieë soos voorheen bespiegel is nie. Dit gee ook die seep sy witheid, hardheid en duursaamheid. As jy belangstel om net plantaardige olies te gebruik, vervang die beesvet met palm-olie. Dis ietwat moeiliker om in die hande te kry en heelwat harder op jou vel, maar is …. wel, plantaardig.
Goed, jy het die volgende “tools” nodig:
1 x 1l glas maatbeker
1 x 5l glas maatbeker/mengbak. Jy kan ook ‘n vlekvrye staal pot gebruik. Bly weg van aluminium – jy sal ‘n gat dwarsdeur brand met die bytsoda.
2 x suiker termometers – opsioneel. Jy kan liggaamstemperatuur min-of-meer met jou hande aanvoel.
1 x redelik akkurate weegskaal. Ek het ‘n 5kg elektroniese skaal – werk baie lekker!
2 x groot roerlepels
1 x gietvorm wat ongeveer 3l kapasiteit het, of kleintjies, genoeg vir 3l altesaam.
Rubberhandskoene
‘n Area buite om die bytsoda te meng.
Nou, kry ‘n skryfding en maak die volgende winkel-lysie:
500g Beesvet (Beef Dripping) mooi spierwit. Koste ± R 10.
500g Olyfolie (verkieslik goedkoper olie, bv. Pomace is beter vir seep) ± R 30
150g Kokosneut-olie (Apteek) ± R 20
200g Kasterolie (Apteek) ± R 25
125g Sonneblomolie (Spar extra virgin – nie kookolie nie!) ± R 10
125g Avocado-olie (Spar) ± R 20
125g Makadamia-olie (Spar) ± R 20
20g Rosemary Essential Oil (Apteek) ± R 42
3 x Brandnetel Teesakkies (Ongelukkig moet jy ‘n hele pak van 10 of 20 koop) ± R 2.83 elk.
228g Bytsoda (probeer akkuraat meet) ± R 9
565ml gesuiwerde of reënwater
Die gewig altesaam is 2536.7g – deel dit in die totale koste en maal met 100 (blokkie seep is ongeveer 100g elk) en jy maak ‘n veelsydige, gesonde vel- en haarseep vir R 7.67 per blok. Glad nie sleg nie, nè?
Nou-ja, eerste ding – kook die water en maak ‘n lekker sterk tee in die 1l glas maatbeker daarvan met die brandnetel teesakkies. Laat dit heeltemaal afkoel (dit moet koud wees). Maak seker jou mates is nog reg. Trek jou handskoene aan en meet die bytsoda uit in ‘n klein droeë houertjie. Neem die beker tee en bytsoda na buite. Gooi die bytsoda versigtig en bietjie-bietjie by die tee-water terwyl jy dit roer. Dit gaan baie vinnig baie warm word en skerp walms afgee. Dis hoekom jy dit buite moet doen!
Terwyl die bytsoda en tee-mengsel buite afkoel, smelt die vet en kokosneut-olie in jou glasbak of vlekvrye pot en voeg al die olies by. As al die olies goed gemeng is, skakel die hitte af en laat dit ook afkoel.
Nou kom die belangrike deel. Alhoewel jy dalk ongeduldig sou raak om die ding aan die meng te kry soos ek was die eerste keer, maak baie seker dat jou tee en bytsoda-mengsel en jou olies altwee rondom liggaamstemperatuur is, d.w.s. tussen 35 en 40°C. Dis waar die twee termometers dalk handig tepas kan kom, maar jou hande is goed genoeg. Moenie jou vinger in die bytsoda-mengsel druk nie! Voel die bak. Jy kan gerus jou vinger in die olie druk as jy wil. As die temperature reg voel of reg lyk, voeg die tee en bytsoda-mengsel by die olies. Jy kan dit binnenshuis doen, die gevaar is verby. As die mengsel amper onmiddelik melkerig word, was jou temperature en mates reg. Indien nie, het jy dalk ‘n lang roer wat voorlê!
Nou gaan jy roer. En roer. En roer. En nog roer. Ek meng die mengsel goed deur en laat dit staan vir so 5 minute tot ek weer deeglik roer. Dit kan sowat ‘n uur neem, soms effe langer. As dit geen tekens toon van dikkerig raak na twee ure nie, gebruik gerus ‘n elektriese eierklitser, wees net versigtig vir spat, en natuurlik oormeng. Wanneer dit effe dikkerig begin raak, soos kitspoeding net voor jy dit in die yskas druk, voeg die roosmaryn-olie by en roer dit deeglik deur. Somtyds versnel die byvoeging van die “essential oils” die stol-proses, so nadat jy dit ingeroer het is dit beste om vinnig die mengsel in jou gietvorms te kry. Jy kon die gietvorms vroeër met so bietjie sonneblom-olie gesmeer het sodat die seep nie vassit nie.
Daar het jy dit – jou eerste suksesvolle tuisgemaakte seep! Die stol-proses laat als weer effens verhit, so sit die vorm op ‘n plek waar dit lekker kan afkoel – jy kan dit selfs in ‘n kombersie toedraai vir isolasie, soos ‘n brood-degie. Nadat dit heeltemaal afgekoel het en gestol het – so 12 ure, kan jy dit uit die gietvorms haal en in blokkies opsny om dan verder op droog-rakkies te kuur. Nou kan jy ook al jou “tools” afwas – die gestolde seep krap makliker af en skuim ook lekker, terwyl die nog-sagte seep nog kwaai olierig is en moeiliker afwas. Was jou hande na hantering – die ongekuurde seep is redelik hard op jou vel. Die seep moet vir ten minste 3 weke kuur voor gebruik, ideaal 4 weke. Moet weer nie ongeduldig raak nie – as jy ongekuurde seep gebruik gaan jy jou vel brand. Gekuurde seep het geen teken meer van bytsoda nie – dis als opgeneem in die proses om olies te omskep in seep.
Na die kuur-maand, geniet jou seep! En laat my gerus weet wat julle ervaring daarvan is.
Genugtig – die Roosmaryn seep klink amper soos een van Hilda se konkoksies…”met ‘n bietjie brandnetel vir skop”.
:-))
Ja, ek weet nie hoe ek op diè idee afgekom het nie, maar nou-ja! Dit werk fantasties. Ek het oor Desember ‘n seep gemaak – die Irishman se oggend-tee het my inspireer. Dit was rooibos tee, heuning en kaneel. Wat ‘n totale flop! Selfs na drie maande se kuurtydperk word dit slym sodra dit water tref! So leer mens…
Hello Deon
Dit klink of jy weet hoe om seep te maak. My kind moet ‘n Natuurwetenskap taak maak oor Hoekom maak seep my hande skoon en botter nie. Ons moet ‘n 4 folio feite taak indien sowel as ‘n hipotese. Al wat ek weet is dat dit te doen het met die samestellings. Kan jy dalk vir my meer inligting gee ek sal dit werklik baie waardeer.
Haai Anca,
Alles wat ek weet het ek gesyfer uit blaaie op die internet. Hier is so paar skakels wat hulle dalk sal help:
http://www.pureandnaturalsoaps.com/
http://www.colebrothers.com/soap/links.html
http://funwithsoap.co.za/home_3.html
Ek hoop julle kom reg. As julle nog hulp nodig het, skree maar net.
Groete
Dion
Anca, ek sit nou net en dink oor die hipotese wat jy genoem het – ek het ‘n seep-program waarin ek al my bestandele invoer. Dit spoeg dan vir my die bytsoda- en water-verhoudings outomaties uit, so ek hoef nie bekommerd te wees dat ek met ‘n kopvol hare die stort inklim en dalk pankop uitklim nie! Weereens – as julle hulp nodig het, skree asb.
Groete
Dion
Naand dion , kan j my asb help met wenke hoe om gebruikte handewas seep te smelt on wee te kan gebruik (HERWINBAAR) seep raak duur en n` mens mors net omi klein stukkies weg te gooi as mens dit we kan smelt en we kan gebruik hoekom nie dit spaar baie geld BAIE DANKIE ENIGE IEMAND WAT WEET HOE ASB HELP 🙂 DANKIE JULLE LEKER AAND
Goeiemôre, en welkom!
Dis eintlik doodeenvoudig om ou stukkies seep te herwin. Rasper al jou ou stukkies seep so fyn as moontlik. Begin dit stadig opwarm in ‘n pot oor lae hitte, terwyl jy bietjie-bietjie water byvoeg – nie meer as ‘n koppie-vol water op ‘n medium pot vol. Die mengsel op die einde moet goed dik wees, anders gaan dit eeue neem om uit te droog, en dit sal ook heelwat krimp as die waterinhoud te hoog is. Wanneer al die gerasperde seep mooi gesmelt is, kan jy natuurlik so 10 na 20 druppels nuwe botaniese olie bysit om die geur en eienskappe te verander na iets wat jou pas. Giet dit dan in jou forms of in ‘n broodpan-form waar jy die seep wil opsny sodra dit meer solied is. As die seep nie te sag is nie, kan jy dit onmiddelik gebruik, anders, droog dit goed uit vir so 5 dae uit die son uit. Voorspoed!
My boetie moet ‘n skool taak oor koekie seep doen ek het nou al gesoek en ek kry baie min inligting
Dit is alles wat in die taak moet wees:
Diagramme
Hipotese
Agtergrond
Wetenskaplike wette
Voordele en nadele
Analise
Ai, die ou skooltake. My twee sukkel ook kort-kort om inligting te werf vir hul take. Daar is min inligting in onse eie taal maar as jy bereid is om te vertaal (soos ek meeste van die tyd moet doen!) is daar wel heelwat. Gaan kyk so bietjie op die skakels hieronder:
http://en.wikipedia.org/wiki/Soap
http://www.chemistryexplained.com/Ru-Sp/Soap.html
http://www.alcasoft.com/soapfact/history.html
Ek hoop dit help, en voorspoed daar.
Hi Deon, ek het seep gemaak, maar dink my boerseep was n bietjie oud dit het n geel kleur, dit was baie mooi met die oats seepie maar baie lelik met die “lavender,en roos seep” ek is baie bly oor jou seep resep en gaan dit regtig gebruik as ek nuwwe seep moet maak. Dink jy ek sal dalk roos en lavender by jou resep kan gooi? Vrystaat groete Miems.
Goeiemôre Miems, en welkom hier!
Daar is heelwat faktore wat kan bydra tot ‘n geel seep. Beesvet sorg gewoonlik vir ‘n pragtige spierwit seep en raak ook nie sommer galsterig in die yskas nie. Varkvet is geneig om vinning galsterig te raak of verkleuring te veroorsaak as dit nie goed afgesmelt is nie – my laaste klomp seep het net 400g varkvet bevat, maar die gehalte daarvan was genoeg om ‘n “vuil kol” in die middel van die seep na te laat wat eers na 4 dae verseep het en nog steeds effe sag is. Die gehalte van die water wat jy gebruik sal ook beslis ‘n invloed hê – so ruk gelede was ons water sommer so geel en vandaar het ons net gebottelde water gebruik. Liefs reënwater vir seepmaak. Daar kon ook kontaminasie in die seepsoda gewees het – ek moes al so paar emmertjies van die goed weggooi want dit was nie suiwer nie. Moet natuurlik ook nie ‘n houtlepel gebruik om jou seep te roer nie (ek is seker jy weet) en bly weg van aluminium en gietyster – enige staal behalwe vlekvrye staal sal die seep geel of selfs rooibruin maak.
Jy het nie dalk room of melk in jou mengsel gebruik nie? As mens room of melk met seepsoda meng sonder om jou mengbak in ysblokkies te hou, melk amper te vries en die bestandele baie stadig bymekaar te voeg, sal dit beslis geel of selfs helder oranje word soos die seepsoda die melk brand.
Oor die roos en lafentel – beslis, ek dink dit sal ‘n heerlike kombinasie wees. Wat ek sal aanbeveel, maar dis jou eie keuse natuurlik; los die brandnetel-tee dan eerder, en gebuik ‘n botteltjie rooswater met witchhazel as ‘n plaasvervanger vir dieselfde hoeveelheid van jou water. Dit gee die seep ‘n diep werklike roosgeur en die witchhazel is natuurlik baie goed vir jou. Jy kan dan selfs pot-pourri blaartjies effe fyner skeur en by jou mengsel inmeng – dit gee interessante skakerings en is ook effens skurend soos mout. Groete, en lekker seepmaak!
PEET KLEYNHANS
HI DION. EK GAAN BESLIS HIERDIE RESEP PROBEER. EK GLO DIT SAL BAIE BETER WEES AS DIE QUARTER MOISTURIZER WAT MY VROU TANS GEBRUIK. DIT IS “GIF”. EK WIL GRAAG JOU OPINIE VRA OOR DIE GEBRUIK VAN NATRIUM DIOKSIED (SODIUM LACTATE) IS DIT VEILIG OM TE GEBRUIK. EK HET OP DIE INTERNET GELEES DAT DIT GEBRUIK WORD OM DIE SEEP HARDER TE MAAK EN DIEN DAN OOK AS ‘N BEVOGTIGER. AS JY SE DIT IS VEILIG, KAN EK DAN VAN DIT IN HIERDIE RESEP SIT ? WAAR KAN EK DIE’ PRODUK KOOP ? EK HET AL BY ONS PLAASLIKE APTEKE NAVRAAG GEDOEN, SONDER SUKSES.
Hallo Peet,
Natrium dioksied word redelik algemeen in seep gebruik om, soos jy genoem het, die seepmengsel baie vinniger te laat hard word, dit help dat jou seepblokke nie bros is nie en dit dien dieselfde bevogtigende rol as gliserien, wat in handgemaakte seep natuurlik voorkom. Natrium dioksied het sy nadele, veral in winkelseep. Onthou, in winkelseep word die gliserien onttrek daaruit om apart verkoop te word, en dan word allerhande middels (onder andere Natrium Dioksied)bygevoeg in gevaarlike verhoudings om die rol van gliserien te speel, en dis hierdie perde waarvoor ons versigtig moet wees. In natuurlike seep word ‘n 1-3% byvoeging van Natrium Dioksied aanbeveel en in so lae persentasie is dit nie skadelik nie. Studies bewys dat dit nie in die natuur akkumuleer nie, so dit is nie omgewingskadelik nie, maar in baie groter dosisse tydens eksperimentering op diere was daar tekens van brein-, senustelsel-, asemhaling- of gedrags-newe effekte. Let wel, dit was met hoë dosisse. 1-3% is baie veilig, maar soos met alle byvoegings tot seep – botaniese olies ingesluit – moet mens maar eers so paar proeflopies op vel probeer om te kyk of daar reaksies is. Ek gebruik nie self natrium dioksied nie, maar sal dit beslis oorweeg – my laaste olyfolie-seep het dae geneem om ferm te word en tydens die snyproses was dit vreeslik bros. Ek sal bietjie uitvind waar dit verkrygbaar is en jou laat weet.
Hi Dion
Wat ek graag sal wil weet is hoe maak mens met al jou stukkies afval seep. Kan dit verwerk word en hoe.
Baie dankie
Coba
Goeiemôre Coba,
Mens kan baie beslis al jou afval-stukkies seep weer gebruik. Ek het vyf gebruike vir al die afsny- en uitkrap-seep stukkies:
• Rasper die stukkies grof of fyn en gebruik dit as versiersel vir nuwe seep.
• Sny growwe stukkies, miskien so groot soos ertjiepitte, maak ‘n nuwe hoeveelheid seep aan en giet die stukkies daarin. Dit maak veral pragtige veelkleurige en veelgeurige seep waarvan kinders hou!
• Jy kan al jou stukkies fyn rasper, in ‘n pot sit, klein bietjie kookwater byvoeg en dit op baie lae hitte smelt. As die geur ietwat weg is, kan jy as die seep soos slappap is weer geurmiddels, kleurmiddels of kruie byvoeg. Dan kan jy dit weer in gietvorms gooi – jy sal net moet gou speel, dit stol vreeslik vinnig.
• Jy kan soos hierbo maak, maar baie meer water en so bietjie gliserien bysit en vloeibare seep maak.
• Jy kan dit net baie fyn rasper, boraks-poeier liggies oor strooi en goed in die son laat droogword. Dis uitstekende waspoeier wat in alle masjiene gebruik kan word. Jy kan selfs net die gedroogde gerasperde seep gebruik om jou huidige waspoeier so bietjie aan te vul.
Groete en voorspoed!
Baie dankie.
Coba
Môre Dion Dit is Mig hier ek sien op jou web mense nader jou ook vir kennis of inligting, ek bedryf nou al agt jaar Tuisbib van my huis af, het dertig jaar se huisgenote, 7 stelle ensiklopedië, van A-Z leër met inligting so 5000, soos bv:A INDEKS
AAI [DIE LUI DIER]
AANDELEMARK
AANGEPLANTE BOSBOU
AARBEIE
AARDBEWINGS
AARDBOL
AARDRYKSKUNDE
AARTAPPELS
ABSA
ABORSIES
ADOLF HITLER
ADDO OLIFANT NASIONALE PARK
en dan het ek ook ‘n server met 7 jaar se skool take op wat die mamma’s al navraag gedoen het.
Hulle skakel my vir inligting
afhangende hoeveel moet ek doen of print mail dit vir hulle
en betaal net die gelde in my rek
So as mense lees ek sal ook graag help
Dankie miggie
Dankie Miggie,
Nou-ja, daar het julle dit. As mense belangstel, gaan loer daar by Miggie.
Hi Dion, ek wil graag begin boerseep maak maar sukkel om gietvorms te kry ek is opsoek na lang gietvorms sodat ek die seep van daaraf in blokke kan sny. Het jy dalk ‘n idee waar ek sulke gietvorms kan kry?
Groete Marinda
Hallo Marinda, en dankie vir jou inloer.
Ek het self gesukkel om net die regte gietvorms te kry. Daar is heelwat gietvorms van seepmakers beskikbaar in ons land, maar daar is min wat die lang gietvorms aanbied waarvandaan mens die seep in blokke kan sny. Ek het my eie gietvorms gemaak wat vir my ‘n 50x90mm blok seep gee, wat ek dan afsny en 24 blokke seep van 25mm dikte kry. Die gietvorm is uit goeie kwaliteit dennehout, maak heeltemaal aan alle kante oop en het koper skarniere en kas-magnete wat dit aanmekaar hou. Ek kan vir jou so gietvorm maak vir sowat R60 en die posgeld beloop sowat R30. Laat my asb. weet of jy belangstel.
Hi Dion
Ek wil graag een van jou gietvorms koop, maar ek sien hierdie post was al in 2011. Verkoop jy dit nog en wat is nou die prys?
Hallo Elize,
Ja, ek het bietjie lanklaas gietvorms gemaak. Ek moet juis vir myself ook nog so paar maak. Ek sal hierdie naweek daarna kyk en jou binnekort ‘n antwoord gee!
Hi Dion,
Baie dankie vir al jou vrygewigheid met jou resepte, raad, ens. Dit help baie om nie weer die wiel hoef uit te vind nie! Ek wil graag weet of jy dalk al ‘n resep het vir wasgoedseep en of jy nie ook oor jou groentetuin wil skryf nie. Ervaring is baie werd en ek leer graag. 🙂
Baie dankie,
Marianne Thiede.
Hallo Marianne,
Die wasgoedseep-resep is op – gaan kyk gerus onder die seep-resepte. Boraks is baie maklik om te kry – jou plaaslike apteek of Clicks sal dit beslis aanhou. Moenie “Borasic Powder” kry nie, kyk spesifiek uit vir Borakspoeier of “Borax powder”. Ja, ek dink ek moet so bietjie oor die tuin begin skryf as daar belangstelling is. Ek sal so iets aanmekaarslaan. Dankie!
Hi Dion,
Ek is nou amper reg om my eerste seep te maak. Ek wil graag jou Camomile resep probeer. Ek het nou alreeds my eie tallow gemaak, so ek wil dit graag gebruik. Ek sou ook graag bietjie kasterolie wou byvoeg vir die lekkerrrrrrrrr skuim. Kan jy my seblief help met die samestelling van die resep en hoe gaan ek te werk om variasies self uit te werk in die toekoms sodat ek nie elke keer hoef te pla nie? As ek kyk na die pryse wat jy noem vir party van die olies dan lyk dit my die ouens by wie ek kan kry, se pryse is beter. Kan ek vir jou die adres hier stuur of liewers op ‘n ander manier?
Dankie Dion,
Marianne.
Hi Dion,
Ek is nou amper reg om my eerste seep te maak. Ek wil graag jou Camomile resep probeer. Ek het nou alreeds my eie tallow gemaak, so ek wil dit graag gebruik. Ek sou ook graag bietjie kasterolie wou byvoeg vir die lekkerrrrrrrrr skuim. Kan jy my seblief help met die samestelling van die resep en hoe gaan ek te werk om variasies self uit te werk in die toekoms sodat ek nie elke keer hoef te pla nie? As ek kyk na die pryse wat jy noem vir party van die olies dan lyk dit my die ouens by wie ek kan kry, se pryse is beter. Kan ek vir jou die adres hier stuur of liewers op ‘n ander manier?
Dankie Dion,
Marianne.
Hallo Dion Ek het netnou ook op een van jou ander seepbladsye gevra oor seep vorms / molds en nou sien ek hierbo praat jy daarvan. Ek is op soek na twee van die lang gietvorms waarvan jy hierbo praat. Is dit moontlik om vir my te laat weet hoe ek die geld by jou kan kry, asook om my adres na jou te stuur asb. Dit is die langes waarvan jy praat wat van dennehout gemaak is. Hoop jy kan help . Baie dankie annatjie
Haai Annatjie,
Ek sal aan die werk spring en vir jou die vorms maak. Ek sal jou skakel met meer besonderhede sodra die vorms reg is.
Groete
Dion
Hallo Dion kan jy vir my definitief drie maak asb. Ek het dit baie nodig. Dit sal ‘n groot hulp wees. Baie dankie. Kontak my dan en ek sorg dat ek die geld dadelik oorstuur asb. Baie dankie. annatjie
Dankie Annatjie, ek sal so maak.
Groete
Dion
Hi Dion,
Ek sien orals word die hoeveelhede in gewig aangegee. As jy die water in ml gee is dit ook in g of bedoel jy definitief ml? Dankie,
Marianne.
Hallo Marianne,
Ja, dis dieselfde. Ek weeg ook myne – as die resep vir 670ml water vra, weeg ek 670g water uit.
Groete
Dion
Hallo Dion My seun het ‘n resep waar hy wassoda moet gebruik? Ons kry dit nêrens. Wat nou?
Haai Leonie,
Die wassoda is maklik om te vervang met dieselfde hoeveelheid gerasperde seep, so moenie eers bekommer daaroor nie.
Groete
Dion
Hi Dion,
Baie dankie geniet jou inligting vreeslik. Sou graag wou weet hoe ons voorgeslagte seep gemaak het van vuuras. Natriumhidroksied was nie toe beskikbaar nie. Sou graag wou probeer om seep te maak soos wat dit oorspronklik gedoen was.
Groete
Wilma
Deon
Ek sit met klein stukkies seep kan ek dit weer gebruik om stukke seep te maak daarvan . En dit weer vir hande seep gebruik. Dankie
Hallo Daphne,
Dankie vir die inloer. Ja, dis eintlik heel maklik: rasper net al jou klein stukkies seep funerig op, vul ‘n medium pot daarmee, sit dit op lae hitte en roer net-net genoeg kokende water daarin om ‘n baie stywe pasta te maak. Dan kan jy addisionele geurolies of botaniese olies byvoeg na jou smaak. Wanneer jy dit in gietvorms gooi (of partykeer druk, dit moet so ferm wees) onthou dat dit krimp wanneer dit uitdroog. Dis al! Voorspoed.
Groete
Dion
Deon
Jammer ek het vergeet om te vra.As jy dit kan doen of jy dan n resep kan gee asseblief.
Hello Dion, ek het al ‘n paar keer boerseep gemaak, en die gogga het nou gebyt. Maak jy nog die vorms en wat is die koste?
Laat weet maar
Marie
Hallo Marie,
Ek maak steeds die vorms. Al wat mens moet in gedagte hou is dat daar posgelde betrokke is ook. Jy moet ook vir my laat weet of jy lang vierkantige, lang reghoekige of oop wye vorms soek. Ek sal binnekort terugkom met ‘n prys.
Wat kan gebruik word om seep te laat skuim ? Castor olie ?
Korrek, kasterolie en klapperolie in jou hoofmengsel. As jy met kasterolie gaan supervet, gaan dit nie veel meer skuim nie.
Dion ek wil weet as jy nie geld het nie hoe kan jy n seep maak dankie drienie
more Deon moet die seep sag bly want die seep wat ek gemaak get word nie hard soos wat ek dit as kind onthou nie wat is die rede daarvoor
Hallo Dion
Wat gebeur as mens die seep sny en dit is brekerig?
Kan mens weer die seep fynmaak en oor-meng en weer bytsoda byvoeg of wat sou jy voorstel
Baie dankie vir al jou raad
Seënwense
Wanda