Dit voel alweer soos eeue gelede sedert ek weer ‘n gedagtetjie hier in my blog-tuin kom plant het en gekyk het hoe dit spoedig blaartjies groei en blom. Nou-maar kom ons begin sommer die eerste een van 2010 met ‘n groot plantjie. Ons gaan groen! Hokaai, ons gaan nog nie poniesterte groei, vergeet om armholtes te skeer, zolle rook, “far out, man!” vir als sê, blomme strooi en begin om kristalle te dra nie, alhoewel ek nie ‘n probleem het met mense wat dit doen nie, verstaan? Kom ek verduidelik met ‘n lekker lang ompad…
Ek maak mos nou al ‘n lang ruk ons eie bad-seep en soliede sjampoe-blokke en ons vel- en haarprobleme is nou al ‘n geruime tyd op ‘n ent. Ek het ook al voorheen belowe om resepte op die blog te sit – ek sal daardie belofte binnekort nakom. Ons het ook al vir so paar seisoene goeie groente uit ons eie tuin geöes – nie op ‘n selfvoorsienende vlak nie, maar wel so dat ons vir so paar maande nie hoef tamaties en uie te gekoop het nie, en so af-en-toe ‘n lekker komkommer, butternut, skorsie, spinasie of boontjies op die tafel. Met die huidige droogte wat heers hier by ons – ons hoof waterbron het net 30% kapasiteit en water word tans gepomp van Stutterheim so 60km van ons – kry die tuin swaar.
Ek het ook nou hoenders! Ja, lag maar… Ek het darem eerste my huiswerk gedoen en die munisipaliteit genader oor wette en dies meer, asook my bure om uit te vind of hulle enige beswaar sou hê. Daarna kon ek kuikens opspoor by ‘n boer co-op hier reg in die stad met voere, saad en als wat ‘n plaas nodig het, al is dit net ‘n klein plasie in die agtertuin! Die hoenders is “broilers” of slaghoenders, om dit “plein” te stel, dieselfde as wat Rainbow en KFC gebruik. Ek weet net nog nie hoe gaan ek dit verby die Engele kry om hulle te slag nie… Hulle is op die oomblik nog in ‘n groot kartondoos met saagsels in, water- en kosbakke en liggie vir hitte in die nag in die motorhuis. Ek moes na die eerste week al die liggie afskakel – dis eenvoudig net te warm hier by ons. Hulle was piepklein – dagoud – toe ek hulle gekry het, en hulle sit nou al my hele hand vol.
Nou, om al bogenoemde bymekaar te bring – ons het besluit om soort-van ‘n “homestead” te begin. Oor die volgende paar weke, beginende hierdie naweek, word die volgende hier gedoen:
- Saterdag ry ek om pale en ogiesdraad te kry om ‘n 6x3m hoenderhok te bou.
- Die hoenderhok sal plek in hê vir lê-henne hoofsaaklik.
- Daar is klaar ‘n dammetjie waar die hok gaan wees – ek mag dalk eende oorweeg.
- Saterdag kry ons ook ‘n 5kl watertenk, vir water van die geute.
- Al ons gryswater gaan herlei word na die groentetuin.
- Die groentetuin gaan heelwat vergroot word.
- Ons wil “square foot gardening” doen – Google dit, dis baie interessant.
- Ons wil al ons kombuis-afval terugwerk in kompos.
- Die Irishman se wurm-kultuur gaan vergroot en meer gebruik word.
- Ek is besig om te kyk na maniere om elektrisiteit te bespaar. Son-selle miskien?
- Ons wil soveel as moontlik skadelose chemikalië vermy.
Dit klink miskien na ‘n geweldige taak wat voorlê (dis waar die hande gaan inkom!), maar met stygende kostes van als en al hoe meer gruwel-stories oor wat chemikalië en groei-hormone in als wat ons gebruik aan kinders en ouer doen, is ons eintlik genoodsaak om iets te doen. Ons wil soort-van uit die skaap-trop klim en begin om ons eie paadjie, meer natuurlik, te wandel. Ons wil ook mettertyd kyk na ‘n stukkie grond net buitekant die stad. Ons het nie dieselfde plaasmoord, onrus en diefstal/inbraak statistieke as ander plekke nie, so dis nog baie veilig om so-iets te oorweeg.
Ek sal die naweek foto’s neem van verwikkelinge en dit hier opsit.
Lewer kommentaar