‘n Voorspoedige en geseënde nuwe jaar aan almal! Ek hoop almal het ‘n heerlike vakansie en goeie rus gehad.
So, hier is ons nou in 2012 – die jaar van groot dinge, soos deur sekeres aangevoer. Soveel mense het my nou al gekontak en uitgevra oor voorbereidings vir moontlike rampe en alhoevel ek nie ‘n absolute kenner is oor die saak nie gaan ek vandag daaroor gesels.
Ek is seker dat meeste van ons bewus is van al die voorspellings vir die jaar, veral rondom 21 Desember 2012. Meeste het seker ook al ten minste die onwaarskynlike fliek “2012″ gesien of die program op Kyknet oor Oorlewing 2012. Ek wil weereens ‘n vrywaring as sulks stel – ek voorspel glad nie dat rampe ons gaan tref, die einde van die wêreld gaan plaasvind of ruimtemannetjies gaan land en ons almal in slawe gaan verander nie. Ek sê geensins dat almal ewe skielik maande se kos moet opberg, leer om termiete te eet, ondergrondse skuilings moet bou of kettierekke en patrone moet koop nie.Ek hou wel al ‘n geruime tyd wêreldgebeure, natuurlike rampe soos vloede, erg winterkoue in die noordelike halfrond, toenemende vulkaniese aktiwiteit onderwater en op land en gebeure (of ‘n tekort daarvan) op ons son dop, om maar net ‘n paar te noem. Ek het net so “gevoel” dat daar iets skort en dat iets gaan gebeur. So, ek tref voorbereiding ingeval iets gebeur. As niks gebeur nie, jippie! Dan het ek so bietjie meer kos en ander benodigdhede in die kas en ek weet hoe om ‘n brood in ‘n miershoop te bak of biltong te maak uit veldrotte. MAAR, as iets wel sou gebeur, weet ek ten minste dat ek en my familie nie van die honger sal omkom of onveilig sal wees nie, en ons sal ‘n toekoms hê.
Sonder om in te veel fyner besonderhede in te gaan; om wyd saam te vat (ek is geen kenner nie) bestaan my voorbereiding uit die volgende:
- Soos genoem, hou wêreldprobleme dop en ore oop.
- Besluit op moontlike ramp omstandighede. (Vloed, aardbewing, Eskom J)
- Besluit wat benodig word vir elke “scenario”. (Kos, klere, wapens en medies)
- Dink aan die toekoms – saad, pluimvee ens. – jy mag dalk nie kan terugkeer na jou huis nie.
- Besluit waarheen om te vlug. (veilige voortbestaan)
- Kry als reg om vining die pad te kan vat.
Een van die meer basiese behoeftes en groot bekommernis daar tussen skuiling, veiligheid en hitte is kos en water. In die weermag het ons vir dae aaneen op rantsoenpakke of “rat-packs” geleef en ons eie water uit riviere gesuiwer. Mens kan wel sulke rantsoenpakke op die internet bestel, maar teen R 65 sonder die posgeld. Ek dink as mens mooi die ding gaan bekyk kan mens dalk met goedkoper wegkom. Die weermag rantsoenpakke was heel voldoende en ek dink dis ‘n goeie voorbeeld om te gebruik vir die aanmekaarslaan van ons eie weergawes. Kom ons kyk gou na die inhoud van die basiese weermag rantsoenpak:
- 4 Lang polyethelene sakkies
- 2 Blikkieskos
- 2 Sjokolade energiestafies
- 2 “Cheesies” (geprosesseerde kaas)
- 8 Vuurtablette
- 1 Pakkie vuurhoutjies
- 2 Pakkies droë beskuitjies (Dogbiscuits in die weermag)
- 2 Stafies versuikerde droë vrugte
- 1 Pakkie woestersous
- 1 Pakkie tamatiesous
- 6 Pakkies suiker
- 2 Pakkies sout
- 1 Pakkie peper
- 2 Pakkies kitskoffie met verromer by
- 2 Pakkies kitstee met verromer by
- 2 Pakkies kitssop
- 1 Pakkie kitspap of 2 graanstafies
- 2 Pakkies aanmaak koeldrank
- 2 Rolle energie lekkergoed (soos Super C)
- 4 Stukkies kougom
- 1 klein blikoopmakertjie
Dit het my ‘n goeie beginpunt gegee vir die probleem van kos vir 24 uur – al wat ek nou moet besluit is hoe om dit te verpak; wil ek dit net in ‘n groot “Ziploc” sakkie sit vir maklike berging wat min plek opneem? Wil ek dit dalk in iets soos ‘n leë koffieblik sit wat ek as ‘n ketel of emmertjie ook kan gebruik en ander goed ook in kan stoor soos mediese goed, hoeke, vislyn, tou ens. en moontlik een liter water? Of moet ek dalk een volledige stel in ‘n koffieblik doen en die res in sakkies? Die keuses hang af van die grootte van die rugsak en die krag in die skouers wat dit moet dra.
Mens kan die sakkies en blikke aanmekaarsit, dit in rugsakke vir elkeen inpak en gereed sit om te “gryp en gaan”, of so paar in die motor se kattebak bêre en so meer. Mens sal net moet versigtig wees om te kyk na als se vervaldatums.
Ek sal baie graag wil hoor van enige voorstelle. Hoewel, voordat kommentaar soos “snert” of “doemprofeet” of “God alleen weet wanneer die einde van die wêreld is” begin instroom, lees maar weer die vrywaring aan die begin van die skrywe. Lekker voorberei, en ek hoop van harte dat dit nie nodig sal wees nie!


Hi Dion
Die voorbereiding is ‘n goeie tyd m jou kamp toerusting op te knap en te kyk wat werklik nodig is. Ek het al hope boeke oor die onderwerp gekoop nie net omdat mens bang is een of ander katestrofe nie maar omdat ons lief is om tyd in die bos deur te bring. Van die boeke is baie insiggewend terwyl ander nie veel werd is nie. Een van die bestes het ons nby ‘n groentewinkel gekry tussen die resepte boeke.
Almal in die huis het ‘n rugsak met die nodige in maar dit is nie net vir bystand nie sodrae ons gaan jag vat ons die sakke want al ons toerusting van veld klere tot jag messe en eetgerei is hier gepak.
Verder is ons boswoonwae ook altyd gepak met kos en sy water tenks is vol. Sodrae ons dan van ‘n naweek af terugkom top ons net weer alles op. Op die manier word die kos maklik roteer met nuwe vooraad.
Ek het ook ‘n tentkamp wat alles in kratte gepak is wat op my sleepwa pas. Gelukkig het ek ‘n beterhelfte wat glo jy skuif nie goed rond tussen die verskillende kamp stelle nie want dan vergeet mens maklik iets. Ek het vir elke krat ‘n plastiek sakkie opgeplak wat ‘n A4 bladsy vat. Die inhoud van elke krat is op ‘n Exel blad gedoen en as jy ietsgebruik verander jy net die inhoud hoeveelhede. Sodrae ons by die huis kom kyk jy wat is kort en vervang dit. Dit is ook ‘n goeie tyd om oorblywende kos in die huis se koskas te sit en vars voorraad in die kratte te pak. Ek druk dan net die nuwe voorade lyste uit en sit dit in die sakkies voor hulle in die kaste gebere word.
Ons ondervinding is dat dit beter is om stadiger aan te vul met toerusting en beter kwaliteit te koop. Cold Steel maak baie goeie bruikbare messe en kapmesse teen bekostigbare pryse. Ek het al my byl vergeet op ‘n naweek wat ons in ‘n hut gaan woon het en my kapmes ( Cold Steel Kukri ) in my voertuig het toe maar diens gedoen as byl.
Dit moet egter ‘n lewenstyl word mens kan nie een naweek klomp goed koop en dan van dit wil vergeet nie. Tussen ‘n paar van ons vriende hou ons so nou en dan ‘n ete en mag ons geen krag gebruik nie of iets in die winkels gaan koop nie. Dit is partymaal noggal groot pret om te sien hoe jy ietsie kleins kort veral as jy dink jy is voorbereid. Maak dan nottas om te sien wat jou onmiddelike tekortkominge is en begin van daar af voorberei. Begin om te probeer selfvoorsienend te wees vir drie dae en dan begin jy verder werk.
In Amerika word voorbereiding as kinder take op skool gedoen. Gaan kyk gerus op die blad http://www.fema.gov. Daar is goeie advies en idees beskikbaar. Ongelukkig is ons land nie so voorbereid nie.
Groete
David