Daar is darem niks so eie aan ons land as ‘n stomende vars-gebakte skaapwagter-sny brood met regte botter op nie. Of botter heerlik gesmelt oor ‘n stomende groenmielie!
Margarien is ‘n goedkoper alternatief en daar word altyd aangevoer hoe gesonder dit is teenoor botter, maar is dit werklik so? Vir eers, kom ons kyk na ‘n kort geskiedenis van margarien.
Margarien het sy oorsprong destyds in 1866 in Frankryk, toe die Franse regering ‘n kompetisie begin het wat navorsing wou lok vir die ontwikkeling van ‘n billike voedingswaardige vet om as plaasvervanger vir botter te gebruik.
Drie jaar later is ‘n resep ontdek wat afgeroomde melk en beesvet gebruik het, en ‘n patent is geskep in Frankryk en Engeland. Die patent is in 1871 verkoop aan die Hollandse firma Jurgens (nie die karavane nie!) en die firma het later die reuse Unilever geword, vanuit ‘n samesmelting van die Britse seepmakers Lever Brothers en die Hollandse produsent Margarine Uni. Die samesmelting was ‘n logiese stap, want palm olie was ‘n groot ru-bestandeel vir beide firmas en dit kon meer effektief op groot skaal so ingevoer word.
Die eerste margarien-fabriek in Duitsland was gebou in 1872 en die eerste Amerikaanse fabriek tussen 1874 en 1876. In 1890 het die vleisverpakking-monopolie die pryse van vark- en beesvet beheer – altwee vette was gebruik om seep en kerse te maak. ‘n Kersmaker en seepmaker het toe besluit om saam te smelt met die doel om beheer te kry oor die katoensaad-olie bedryf en so dierevet en die verpakkers uit die kers- en seep-besigheid te dryf. Hulle was suksesvol en gevolglik in 1909 is ook die proses van hidrering (hydrogening) uitgevind – die proses om waterstof-atome by die vetsuur-ketting in te dwing. Na dit het sojaboon-olie die hoof bestandeel van margarien geword. Teen die middle 1930’s was margarien klaar hoofsaaklik uit hidreerde sojaboon-olie gemaak, met die byvoeging van vitamiene A en D. Gedurende die depressie-jare het die gebruik van margarien baie verhoog, en nog verder tydens die Tweede Wêreldoorlog, toe botter hoofsaaklik bestem was vir die soldate wat in Europa geveg het.
So, wat is so sleg aan margarien, vra jy seker teen die tyd. Om daardie vraag te beantwoord, moet mens kyk na die maak daarvan. In ons “moderne” era is die produksie van margarien ‘n afstootlike proses wat verskeie skadelike chemikalieë inspan. Hier is so vinnige oorsig van die proses:
- Plantaardige olies word verkry deur sade soos bv. sojabone, mielies, katoensaad of canola te pers met hoë hitte om sodoende die olie uit te forseer.
- Hitte en lig versnel die reaksie tussen poli-onversadigde vette en suurstof, so die uittrekkingsproses veroorsaak dat die olies gou galsterig raak, met die gepaardgaande reuke en geure.
- Enige olie wat dalk in die saad-pulp agtergebly het, word uitgetrek met die gebruik van heksaan, bekend as neurotoksies.
- Die ru-olie word dan ontgom met suur om ander onsuiwerhede te verwyder, en ‘n bytsoda word bygevoeg om die suur te neutraliseer agterna.
- Die resultaat – ‘n grys stink olie, word gebleik met “Fuller’s Earth” (dieselfde bestandeel in kat-gruis) en gefiltreer.
- Die galsterige reuke word verwyder met ‘n hoë-hitte stoomproses, wat ongelukkig ook al die oorblywende voedingstowwe en antioksidante vankant maak.
- Die gerafineerde olie word gemeng met ‘n nikkel katalis en word blootgestel aan waterstof onder hoë druk en temperatuur, wat waterstof-atome in die olie-molekule inforseer. Die resultaat is ‘n gedeeltelik soliede en versadigde-vet produk. Dit is ook hierdie proses (hydrogenation) wat gevaarlike trans-vette skep, wat verantwoordelik is vir inflammasie, insulien-weerstand en ander gesondheidsprobleme.
- Die gevolglike grys, stinkende ghries word dan gefiltreer om die oorblywende nikkel en ander vasgevangde vastestowwe te verwyder.
- Die ghries word dan gemeng met seep-soortige emulsifiseerders, en word weer stoom-skoongemaak om die slegte reuke te verwyder.
- Die mengsel word dan weer gebleik om die grys kleur te verwyder en kunsmatige geure, sintetiese vitamiene en natuurlike kleurstowwe (sintetiese kleurstof is mos gevaarlik!)word bygevoeg om die voorkoms, voedingswaarde en smaak te verbeter.
- Die konkoksie word nou in bakkies gegiet en versprei om verkoop te word.
- Laastens word slim advertensies en bemarking gebruik om die produk te bevorder as gesond aan ‘n nikswetende publiek, gewoonlik met die volle aanbeveling van verskeie wetenskaplikes, dokters, voedingsdeskundiges en gesondheidsowerhede.
Ek het tydens navorsing van hierdie skrywe behoorlik gegril. Hoeveel jare al gebruik ons en ons kinders nou al margarien? Ons gebruik nie soveel dat ‘n oorslaan na skoon rou botter ons hele begroting gaan kelder nie, want wragtig, in die Botter vs Margarien debat, wen botter loshande!



Persoonlik hou ek nie van die smaak van botter nie. Ek verkies margarien – moontlik omdat ek daarmee groot geword het. Ek is inderwaarheid lief vir margarien – ek eet gerus net dit op my brood, omdat dit lekker is.
Nee, ek stem heeltemaal saam, margarien is darem lekker en ek dink die meerderheid van ons het ook daarmee grootgeword. Maar as ek so kyk na hoe hulle dit vervaardig het, is ek persoonlik bereid om oor te slaan.
Hoe gaan ‘n mens ooit weer die goed eet na hierdie blog?
Man ja, ek het eers agterna gedink aan al die ander mense wat dalk saam met my sit en gril! Ek het sommer Vrydag al botter gaan koop – hy’s natuurlik so bietjie fermer as margarien, so toe smelt ek so poeding-bakkie vol en meng so een derde van die botter se volume olyfolie by. Nou smeer dit sommer baie makliker, dit gaan verder en ek dink dit sal so bietjie gesonder ook wees.
Oulike wenk met die olyfolie – dis eintlik my enigste pluk met botter is dat mens moet dit in die yskas hou maar dit word onmoontlik om te smeer as jy gou ietsie wil eet.
Hallo Louisa, en welkom!
Ja, veral vroegoggend as mens wil toebroodjies maak. Ek wil ook nie ‘n stuk roosterbrood aan flarde smeer net om ‘n bietjie botter daarop te kry nie. Mens kan seker ander olies ook probeer – hang net af van persoonlike smaak.
Ok, biegtyd…
Daai dik sny tuisgebakte brood. Met VARKVET en tuisgekookte appelkoos konfyt!
Enige dag.
Dood moet ‘n oorsaak he!
Maar botter bly koning. En as jy dit self gemaak het, is dit sommer tops.
Wat praat jy nou! Ai, my mond water behoorlik… ek gaan sommer vanaand ‘n broodjie in die oondjie sit…
… “rephrase”… ‘n brood bak!
Oe! Hoe lus ek nou daai brood van jou met lekker dik botter en ‘n bloedrooi tamatiejêmpie!
Hiert jou lekker ding! Ek gaan juis hierdie naweek amper die hele tuin vol tamaties plant – ek wil ‘n magdom bottels jêm kook sodat julle weer lekker in Desember kan weglê!
Koop asb botter dat die melkboere kan lewe. (Maar nou is dit dieselfde melkboer wat ook canola aanplant!!) Ai! mens kan nie wen nie!!
Ek sal maar weer begin botter koop….
Ek is eintlik in die benarde posisie dat ek ook nie kan kj\la oor die canola nie – dis ‘n lekker olie om in my seep te gebruik! Ek sal maar die draadsitter wees… Ek het die naweek weer brood gebak en mensig, so bottertjie is darem smul-lekker op daardie stomende brood! Dis al wat ons Saterdag vir aandete gehad het: vars brood, botter, heuning en selfgemaakte likwart-konfyt. Ons was omtrent dikgevreet agterna!
Vir botter of wors…..kan ons nou weer ‘n storie kry asseblief?