Dis vuilgoeddag – al die klein mandjies in die badkamer en slaapkamers word in ‘n groot sak gegooi, daar word by die voordeur uit gestoei en gemik om die potplante te mis en nie die sak oop te skeur nie. Die dag is vrolik en vars, die honde baljaar asof hulle my jare laas gesien het en dou druk-druk van blinknat blare af. Worstel verby die kar, trap amper in ‘n landmyn – skel op die honde – en ontdek dan dat ek die hek se sleutels binne gelos het. Gooi neer, hardloop in, skel op almal wat die sleutels vir my weggesteek het, ontdek dit in my sak, verdwyn stilweg weer na buite, sluit die hek oop, en “surprise!”, daar staan Ta, reg om deur my sorgvuldig-geknoopde sak te krap vir wie-weet-wat.
Onmiddelik is my “rev-counter” in die rooi – die turbo het ingeskop, die waarskuwingsligte is aan en ek is reg om hom ook sommer in die sak in te druk!
Toe ek in die weermag was en op offisierskursus, was ons geleer oor “Revolusionêre Oorlogvoering”. Onder andere het dit gehandel oor hoe die straatlopers, die vuilgoedkrappers en selfs bediendes en tuinjonge gebruik kan word om intelligensie te werf oor huishoudinge. Dink vir ‘n oomblik daaraan; as hulle sorgvuldig deur jou vuilgoed gaan en volledige rekords hou, kan hulle basies vir elke huishouding ‘n tydlyn skep van gebeure – hulle kan volgens weggegooide bankstate vasstel hoeveel jy verdien en wanneer, watter skool jou kind bywoon en presies in watter klas hulle is, maatjies se name, uitstappies weg van die huis af ens. Hulle kan volgens die tipe omhulsels vasstel of jy welgesteld is of nie, of jy skootrekenaars en ‘n internet-lyn het, volgens sneesdoekies kan hulle selfs vasstel of iemand in die gesin siek en weerloos is. Bottels leë drank – hulle kan vasstel of jy gereeld braai en ‘n partie hou, verjaarsdae volgens weggegooide kaartjies en toedraai-papier. Mense, hulle kan selfs presies weet wanneer die vrouegeslag in die huis op hulle maandelikse dinge is. Dink so oomblik aan jou rommel, maar dink so bietjie verder oor die storie wat dit omtrent jou en jou gesin kan vertel.
Is dit dan so onredelik om vies te raak vir hulle wanneer ek hulle vang my dogter se sanitêre doekie hanteer, of deur my “junk-mail” gaan?
Mens moet seker nie die bobbejaan vir elke ding agter die bult gaan haal nie. Meeste van hulle soek die plastiek koeldrank-bottels om in te ruil vir ‘n geldjie en mens kan dit seker eenkant in ‘n aparte sak vir hulle sit. Maar dit help nie eintlik nie – hulle wil nog steeds deur die ander rommel gaan. Ek het nou al gevloek en geskel, warm klappe uitgedeel, die honde losgelaat en geskiet op hulle, maar as ek my maar kan kry is daar ‘n paar vuil hande wat deur my rommel werk. Is dit werklik die laaste uitweg vir hulle? Kan hulle werklik niks werk kry om te doen nie, of is hulle net te donners lui om te werk? Dis mos nou makliker om rond te slenter, deur ander mense se weggooi-goed te krap en so terloops lekker te kan rondkyk wat in die buurt aangaan. Mens is mos maar van nature geneig om hulle te ignoreer, so eintlik kan hulle maar doen wat hulle wil. Mens kan hulle eintlik nie weghou nie – hulle is soos die onvermydelike rysmiere na reën – as jy maar jou gat draai, is hulle daar.
So, wat kan mens doen daaroor. Maar net leef en laat leef? Miskien is ek te agterdogtig, maar as ek ‘n land wou oorneem of by mense wil inbreek en wou inligting oor hulle kry sonder om alarms af te sit, sou hulle rommel beslis een van my beginpunte wees…
Ek hoor jou, Ek wil ook net klippe gooi as hulle Vrydae my asblik kom omdolwe, maar dan loop die grawer weg met ou oorskietkos en ek voel soos ‘n wurm.
Nou vernietig ek maar enige papierwerk soos rekeningstate ens. en laat die grawers begaan…en swets dan na die tyd kliphard terwyl ek die gemors op die sypaadjie optel soos wat dit uit die asblik geval het met hulle delwery.
Ja, hulle kan partykeer ‘n gemors agterlaat. Ek het al so paar van hulle teruggeroep en hom maak als optel en die sakke weer behoorlik toeknoop. Ek het tot al langs een gaan staan en hom help krap – toe hy wou weet waarvoor ek soek, toe sê ek vir hom dat ek hom wil help soek vir wat hy in my rommel verloor het. Hulle loop nou al sulke wye draaie om my plek as hulle my in die omtrek gewaar…
Gee hulle gas…
Was Kroonstad vir jou lekker tydens JL’s?
Môre!
Ek was by Bossiespruit, buite Kroonstad. Moeras-water, gevriesde grond, brug-bou, wagstaan by die ammo-dump, vasbyt met ‘n nat sandsak op jou rugsak… Dit was hard, maar lekker. Die een-strepe en die KO’s was almal goeie vriende, al het die instrukteurs hard probeer om ons teen mekaar op te sweep. Lekker gekuier by die “Brass Boot” – ek het nou nog my beker. Ek hoor die plek het op ‘n stadium heeltemaal tot niet gegaan met hierdie nuwe narre in die regering, maar is onlangs weer herstel en word weer as opleidingsbasis gebruik. Was jy ook in daardie omtrek gewees?
As jy in 1992 daar was, was ek die dienspligkapelaan saam met jou! In die binnebasis gebly saam met my liewe vrou, gereeld uitgevlug Nossies toe weens die staandemagkapelaan se poefies…
My maggies, ek kan dit nie glo nie! Ek was juis in 1992 daar. Ek moet eerlik wees en erken dat ek jou net so vaagweg kan onthou. Ek sal ons instrukteur se gesig onthou tot die dag wat ek my kop neerlê, maar verder as dit is die ander gesigte ‘n “blur”. Het jy aangebly op Kroonstad vir jou diensplig? Ek is na Bossie weer terug 2 Veld toe op Bethlehem.
Bossies…
Jy weet dan, broer…
Ek raak ook vies as hulle goeters op die grond gooi, maar jy moet jou nie so onstel nie – dis op ‘n aaklige manier seker deel van die natuur. Net soos die “scavengers” die oorskiet kom haal as ‘n bok platgetrek is, doen hulle seker maar min of meer dieselfde. Dis eintlik baie hartseer dat mense dit in die eerste plek moet doen.
Ons oordeel maklik mense wat in asblikke grawe en vrouens wat hulle liggame verkoop om vir hulle kinders kos te kan koop, maar wat sou jy doen as jou kinders pap op die grond lê omdat hulle 5 dae laas kos gehad het?
Ek het al gesien mense sit oorskiet/ ou kos/ gebreekte skoene apart in ‘n sakkie bo-op die blik neer sodat die eerste “gelukkige” darem ietsie “skoon” het om te eet.
Ons moet eerder elke aand op op knieë gaan en dankie sê dat ons wel só geseënd is om genoeg van alles te hê.
Ek weet, jy preek vir die koor. Ek het net al soveel van hulle ‘n werkie aangebied om geld te verdien, maar hulle stel nie belang nie. Dis asof hulle gelukkig is om so te leef. Miskien weet hulle nie van beter nie. En soos gesê, ek sit goed apart, maar dan krap hulle nog steeds in die res.
Ten spyte van als, probeer mens mos maar altyd om nog steeds iets te doen, soos jy sê met die oorskiet kos of skoene en selfs ou klere.
Die Irishman sê ek’s ‘n “sucker”, maar nou-ja… Ten minste rus mens se gewete bietjie beter.
Ek gooi nooit briewe en goed weg nie. Dit is hoekom ek stapels van die goed het wat ek iewers moet bêre. Die idee van doekies freak my uit.
Aha! Nou verstaan jy. Ek wou die stuipe kry toe ek vir meneer dit vang doen.
Ja, ek het daar gebly tot Desember. Ek sou dalk ‘n onderhoud met jou ook moes doen vir die finale fase van KO keuring, maar ek het niks slegs van niemand gesê daarin nie. Ek weet die staandemag kapelaan het die verslae hanteer op ordergroepe asof hy self die onderhoude gedoen het. Hy het een Sewendaagse Adventis geweldig gas gegee oor geloofsake, en dit laat klink asof ek sy keuring wou stuit. Daardie ou het my baie skade berokken in my dienspligjaar- die PF Doom. Ek gaan nog eendag by hom kuier om die spoke te begrawe, ek weet waar hy nou bly.
Ja, die staandemag-mense het mos altyd gedink dat hulle beter was! Hier in die tweede helfte van die jaar het hulle skielik begin fiksheidstoetse op staandemag-lede begin doen by 2Veld – toe moes jy sien hoe kla hulle! Ja, ons moes seker op ‘n stadium gesels het, maar ek kan beslis nie onthou nie. Dis jammer die PF Doom het jou so befoeter – dis nogal iemand waarvan mens dit die minste verwag. Ons PF Doom op 2Veld was ook maar ‘n slapgat – ons ouens het baie goed oor die weg gekom met die diensplig kapelaan en ek onthou hom goed. Ons het selfs lekker met die diensplig dokters ook gekuier. Ek weet waarvan jy praat met die spoke begrawe – ek het al heelwat mense uit my verlede raakgeloop en hulle vergewe of om vergifnis gevra oor dinge. Snaaks genoeg kon meeste van hulle my nie eers onthou nie, maar dit het my beter laat voel.
Die dienspligkapelaan was Smit Kotze, een van my klasmaats. Staandemag doom was Willie Burger…
Ek het in ’94 ‘n tweemaande kamp gedoen by 2 Veld toe die kapelaan weg is, tot hulle nuwe een gekom het.
Dis hy! Willie Burger. Niks van hom gehou nie. Smittie onthou ek goed. Ek dink hy en sy vrou het ‘n huis op ‘n plaas gehuur rondom Bethlehem. Ons klomp offisiere het die een oggend op die paradegrond gestaan, toe daag die lot swart troepe van 21-kompanie op en maak ‘n onheilige geraas. Ek, ewe ingedagte en heeltemaal vergetend van wie om my was, sê toe kliphard: “Wat de f%$!” Smittie het my nog so lam-arm toegedien wat ‘n blou kol gelaat het!
Hier in Skellimbos hersirkuleer of recycle van die woonbuurtes. Ek moet bieg, sedertdien is die vuilgoed wat uiteindelik in die wheeliebin land, baie minder.
Laasweek het ons al die ‘af’ wyn uit die bottels vrygelaat, en ‘n HELE recycle sak het op die sypaadjie beland… Gelukkig weet die bure ons vat ‘n ou ietsie, maar hulle het seker nie gedink ons vat SO hard nie
Verder het buurtwagtes begin om die buurte te ‘reinig’ van die krappers. Suiwer oor veiligheidsredes. Die kontrole is sleg wanneer hordes met trollies ronddwaal. Ons probeer hulle heeltemal uit die buurt hou.
Ek wens ons het buurtwagte gehad, dan kon mens dalk iets regkry. Hulle is ‘n kwaai irritasie.
Julle moet maar “papsakke” gebruik – mens kan hulle ten minste klein opfrommel dan’s die “hard vat” nie so ooglopend nie!
Ek gee jou gou ‘n tip hoe om Kwela se karavaan volgende jaar te wen….
dooie pofadder bo-in die vuilgoed drom met ‘n kamera en mikrofoon NABY om als vas te vang. Daai krapper wen vir jou ‘n moerse prys en jy maak hom skrik vir ‘n maand.
Hoor gou: kan mens canola olie gebruik soos jy olyf olie sou gebruik vir die seep? Ek wil kook.
Seenwense.
Hmm, ek wil sommer ‘n nes pofadders in die drom gooi – hy moet vir hom skrik tot in die volgende tuisland en sommer daar bly!
Ja, jy kan. Canola maak net ‘n sagter seep wat langer neem om te verseep, maar hy is ook goed vir jou vel.
Seën aan jou kant ook!