Almal het seker al op die nuus gesien dat ons dorpie-by-die-see alweer onder die geweld van die elemente deurgeloop het. Ons was nog besig om te herstel van die laaste vloed so drie weke gelede, die een wat die Oos Kaap se droogte genadiglik gebreek het. Damwalle het met meer as 2.5m oorstroom en riviere het gestyg met amper 4 meter. Mense langs die rivier se huise het oorstroom en boothuise en jetty’s het op die strand opgeëindig. Die middag toe ek na die rivier gaan kyk het, kon ek byna nie parkering kry nie, daar was soveel mense wat oopmond en met klikkende kameras die vloedwaters aanskou het. Gelukkig het dit daardie keer oor so paar dae gereën – die slag het als in omtrent een uur geval.
Dit het Sondag alreeds begin motreën en Dinsdag oggend vroeg was dit maar nog steeds toegetrek. Die Irishman was so 6:30 al op – toe was dit nog stil buite. Van 6:45 het die wind sommer skielik opgesteek en teen 7:00 het ons gedink die dak gaan afkom. Die Engele was so bang, hulle het by ons in die bed kom klim. Dit het vir meer as ‘n uur so aangewoed, so erg dat ons amper nie die bure deur die digte reën kon sien nie. Ek het so middeldeur als afgestap om te sien of die res van die huis nog staan – die trappe af was nat van water wat eenvoudig deur die toe vensters gedryf was deur die wind, en aan die onderkant van die trappe het ek in enkel-diep water ingeklim. Die motorhuis was onder water!
Buite het die water in strome van ons grasperk teen die motorhuis opgedam, die geute was afgeruk deur die wind en die kanale voor die motorhuis kon eenvoudig nie die massas water hanteer nie. Ek het ‘n baadjie aangetrek en probeer om die kanale verder oop te maak. Die water was soos yswater – my voete en bene het sommer so gepyn van die koue en na ‘n minuut in die water kon ek nie meer my vingers voel nie.
Om ‘n lang storie kort te maak – die water wat deur die vensters gedryf was het die kinders se klein skootrekenaars beskadig, Engel 1 se DVD-masjien en die Irishman se rekenaar wat sy vir haar werk gebruik het. Al my borde en tops wat ek vir die nuwe kombuis gekoop het is daarmee heen en ons is besig om kwotasies te kry om die geute reg te maak – alles saamgevat, sowat R25 000 – R30 000 se skade. Ons het eintlik lig daarvan afgekom, soos wat julle in die volgende foto’s sal sien:

Die "subway" onder die treinbrug deur, van Vincent na Cambridge. Die ou het homself bietjie misgis...
Insluitende myself, dink ek daar is heelwat mense in ons dorpie wat nie hierdie jaar hulle “outbonus” gaan kry nie…











Joh!!!!
Mens is so weerloos teen die elemente. Met versekering is dit alles ‘n pyn, maar ek kry die mense sonder versekering innig jammer.
Hoop die elemente gee julle nou kans om te herstel.
Jy’s so reg. Dit het ons beslis weer laat besef hoe klein ons is teen die natuur. Gelukkig het die assuransie sover ons eis vir ons rekenaar-toerusting goedgekeur – sowat R 15 000 se goed, so dinge begin darem nou bietjie beter lyk. ‘n Ou kom ons vanmiddag sien oor die af geute – ons sal maar die kwotasie insit en ook hoop vir die beste. Ongelukkig lyk dit of die kombuis-goed ‘n afskryf is, want niemand wil dit dek nie. Shame, nou moet die Irishman nog langer wag vir haar kombuis waarmee ek besig was…
Joe! Ek het iets oor die radio gehoor, maar nie besef dis so erg nie!
Hallo Maankind, en welkom!
Ja-nee, dit was goed erg gewees. En soos dinge lyk op die “climate change” agenda, gaan dit dalk net erger raak. Ek dink ek gaan maar êrens in die berge in ‘n grot intrek en hiberneer…
Sjoe! Dis vreeslik wat als in ‘n kwessie van ‘n uur kan gebeur! Selfs hier op die hoëveld het ons ‘n baie snaakse winter.
Ek hoor julle het sulke snaakse weer, en die koue is glo bonatuurlik. “Ice Age”, hier kom ons…
Hello. Ek sien nou eers die inskrywing. Dis VERSKRIKLIK!!
Hoekom het ek nog altyd gedink jy woon op Stellenbosch?
Ja, dit was nogal erg. Ek het laas so-iets beleef to Demoina ons getref het destyds toe ons nog in Vryheid gebly het.
Ek’s nog al die jare in Oos London. Ek dink dis Skoor wat op Stellenbosch is, as ek reg onthou.
Goedgaan!